Xander Pienaar in SA o.17 skole tennisspan

Afrigter Johann “JK” Koch en jong tennisster Xander Pienaar. Foto verskaf

DIE 16-jarige Xander Pienaar is gekies vir die SA Skole o.17 tennisspan wat in Junie na Engeland reis waar die span aan ’n toernooi by Living Tennis Academy gaan deelneem en ook vanjaar se Wimbledon tennistoernooi sal bywoon.

Xander, wat al vanaf vyfjarige ouderdom deur Johann “JK” Koch afgerig word, is tans ’n graad 10- leerder aan Paul Roos in die Paarl waar hy reeds vir homself naam op die tennisbaan gemaak het.

Hy is tans die Boland se nommer-1 o.19-speler en het die Boland van 26 tot 29 Maart in die interprovinsiale tennistoernooi in Pretoria verteenwoordig waarna hy vir die SA skolespanne (o.15; o.17 en o.19) gekies is.

Hoeweel die belowende Xander tans in die Paarl skoolgaan, kry hy steeds afrigting by Koch wanneer hy vir vakansies huistoe kom. (Deur Garnett Wicomb)