Witwarm rugby in die koue tussen All Blacks & Collegians

Die B-span van die All Blacks verlede Saterdag op die veld in aksie teen die B-span van Collegians. Foto: Verskaf

In die SWD Eersteliga A-afdeling het die spanne van die All Blacks Rugbyklub en Collegions teen mekaar te staan gekom op Saterdag, 20 Julie in Oudtshoorn.

Die A-span van die All Blacks het die wedstryd gewen met 25 punte teenoor 14 vir Collegions A. John Jackson, PJ Sauls, Arnold Malapane en Altheano Matolla het gesorg vir die All Blacks se drieë, terwyl Jason Plaatjies die doelskop se 2 punte op die telbord gesit het en PJ Sauls 1 strafskop deur die pale gestuur het.Die B-span van die All Blacks het ook hul wedstryd teen die Collegions se B-span gewen met 22-3. Die puntemakers was Duwayne Januarie, Curwin le Roux en Nigel Buys met elkeen ’n drie agter hul name en Herschelle Coetzee met twee doelskoppe en ’n strafskop.

Ná verlede naweek se wedstryde lê die All Blacks se A-span 2de op die Top 8-punteleer met 29 punte en Collegians se A-span 4de met 22 punte. Die All Blacks se B-span is 1ste met 37 punte en die B-span van Collegians lê 8ste met 5 punte.

Die All Blacks speel volgende naweek, die 27ste Julie, teen Happy Hearts in Brandwag en die Collegians pak die Eagle Stars in Oudtshoorn.

In die SWD Superliga A-afdeling het Bridgton RFC teen Progress in ’n wegwedstryd te staan gekom. Bridgton se eerste span het ’n baie harde wedstryd gewen met een punt, 23-22. Die tweede span het ook die wedstryd gewen met ’n telling van 20-17. Die derde span het 16-18 verloor.

Tans op die Top 8-punteleer van die Superliga A-afdeling lê Bridgton A1 eerste in die A-afdeling met 31 punte, Bridgton A2 is ook eerste in die B-afdeling met 27 punte en Bridgton A3 lê tweede met 27 punte in die C-afdeling.

Bridgton RFC kom die 27ste Julie teen Heidelberg te staan in ’n tuiswedstryd in Oudtshoorn. (Deur Lindi Brill)