Wesbank Tennisklub toernooi lok 20 pare

Al die spelers wat die afgelope naweek aan die Wesbank Tennisklub se jaarlikse gemengde dubbelstoernooi deelgeneem het. Foto: Garnett Wicomb

Die jaarlikse gemengde dubbelstoernooi van die Wesbank Tennisklub is die afgelope naweek weer met groot sukses aangebied met altesaam 20 pare van oral uit die Suid-Kaap en selfs van Durbanville. Daar was ook agt spelers wat Suid Afrika reeds in die buiteland verteenwoordig het.

Die toernooi is volgens die klubvoorsitter en hooforganiseerder, Jacques de Beer, ’n hoogtepunt op die klub se kalender.

Die naweek het behalwe vir goeie tennis ook gesorg vir baie pret, pryse vir al die deelnemers en goeie kameraadskap en sportmangees.

Severus en Helena Smuts van Hartenbos (A-Afdeling), Johan Janse van Vuuren en Adel Smuts, ook van Hartenbos (B-Afdeling), en Luan van der Westhuizen en Hezali Nel van Oudtshoorn (C-Afdeling) was die onderskeie wenners van die toernooi.

In die A-Afdeling het Anton Meyer (Durbanville) en Annalise Potgieter van George tweede geëindig met Ryk Smit (Mosselbaai) en Christine van Coller (Hartenbos) in die derde plek.

In die B-Afdeling was Stefan Smuts (Hartenbos) en Karin Steenman (George) die naaswenners met JC Conradie van George en Elsabe van der Merwe van Oudtshoorn derde.

Dennis Botha en Sonja van Wysberge van Oudtshoorn was die naaswenners in die B – Afdeling en Marc Bredell en Anna-Marle Hartzenberg (Oudtshoorn) derde.

Johan Janse van Vuuren was die wenner van Eenduisend Rand in die gebruiklike eenpunt-kompetisie waaraan al die spelers deelgeneem het.

De Beer het sy dank teenoor die spelers asook die borge van die dag uitgespreek. (GARNETT WICOMB)