

Die Oudtshoorn sportfees wat tot 17 Julie duur het Vrydag 13 en Saterdag 14 Junie met die o.13 Cravenweek-rugby afgeskop. Saterdag het die SWD Trompoppie-kampioenskappe ook by die De Jagersportkompleks plaasgevind waar trompoppies van 12 skole meegeding het.
Die senior en junior trompoppies van Van Reedeskool het in die A-liga as wenners van die Elite League weggestap.
Die volgende hoogtepunt vir trompoppies en “cheerleaders” is die nasionale SAMCA- kampioenskappe wat vanaf 4 tot 12 Julie op die Rec plaasvind. Meer as 2500 trompoppies neem daardie week deel en toeskouers kan ʼn skouspel verwag.
Daar was Saterdag ook iets vir motorwedren-entoesiaste op die ovaalbaan ter voorbereiding van die bekende Klein Karoo Ovaalbaankampioenskap wat op 12 Julie plaasvind. Tydens Saterdag se geleentheid het renjaers van elders die geleentheid gekry om teen plaaslike renjaers mee te ding en om die baan te ervaar met die oog op hulle deelname op 12 Julie.
Saterdag 21 Junie vind die inheemse spele by die De Jagersportkompleks plaas. (HANNES VISSER)