Wesbank Tennisklub naaswenners in Wes-Kaap Amex Klubkampioenskap

Die span van Wesbank Tennisklub met hul silwer medaljes is, van links:, Marcell Petzer, Rida Bester, Madri van Wyk en Jacques de Beer (kapt). Foto verskaf.

“Vir ’n klein dorpie soos Oudtshoorn hoef ons glad nie terug te staan vir die stede se groter tennisklubs nie.”

So sê Jacques de Beer, kaptein van die Wesbank Tennisklub na sy span se blink vertoning die afgelope naweek in die Wes-Kaap Amex klubkampioenskap waar die span as naaswenners uit die stryd getree het. Die span is De Beer, Marcell Petzer, Madri van Wyk en Rida Bester.

Hulle en die span van George Tennisklub wat tweede geëindig het in die Eden-been van die kampioenskap het teen die wenners en naaswenners van Boland en die WP in die Strand meegeding om ’n plek te bevestig in die nasionale Amex klubkampioenskap wat van 29 Augustus tot 1 September by Sun City plaasvind.

In die eindstryd in die A0-Afde-ling tussen Wesbank Tennisklub en Camps Bay Tennis Club het Marcell Petzer en Jacques de Beer van Wesbank in ’n taai wedstryd met 3-6, 3-6 teen Jody Klaassen en Ben McClurp in die mansdubbels verloor.

Madri van Wyk en Rida Bester moes toe hul damesdubbels wen om sake gelyk te maak en sodoende ’n gemengde dubbels af te dwing.

Hulle het ongelukkig in drie stelle die onderspit gedelf teen Jess Schultz en Suzi van der Merwe.
Pinelands Tennisklub het derde geëindig met George Tennisklub in die vierde plek. (GARNETT WICOMB)