RUGBYLIEFHEBBERS van Oudtshoorn en elders sal bly wees om te hoor dat die Zibi 7’s rugbytoernooi na ’n afwesigheid van twee jaar weer op Oudtshoorn gaan plaasvind, op Vrydag en Saterdag, 29 en 30 Julie.
Die toernooi, wat aangebied word deur die Bridgton Sekondêre Skool (BSS) op die Bridgton Sportgronde, het in die verlede hordes jong rugbyspelers na Oudtshoorn gelok.
Die afgelope twee jaar se pandemie het ongelukkig die aanbieding van die toernooi gekortwiek, maar met die negende uitgawe van die toernooi wat vanjaar hier sal plaasvind, gaan nie minder nie as 36 spanne oor drie verskillende ouderdomsgroepe op die dorp toesak.
Volgens Deon Carelse, hooforga-niseerder van dié jaarlikse toernooi en leerkrag by BSS, gaan die verdedigende o.19-kampioene – Albert Myburgh Sekondêre Skool van Bredasdorp – ook vanjaar deelneem.
“Wedstryde word vanjaar ook regstreeks op BSS en ook EdenFM se Facebook-blaaie uitgesaai,” sê Carelse.
Daar sal, volgens Carelse, soos oudergewoonte ook vermaak by die veld wees vir toeskouers.
“Daar sal ’n kuiertuin vir oud-Zibiane en volwassenes wees, en ’n musiekfees met oud-leerders word Vrydagaand in die kuiertuin aangebied teen R100 per kaartjie.
“Daar is ook ’n kindertuin met ’n springkasteel, fietse, gesigverf, speletjies en nog meer die dag be-skikbaar.”
Verder sal daar ’n verskeidenheid kosstalletjies wees. Wedstryde begin Vrydag reeds om 11:00, en Saterdag om 08:30. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Weer tyd vir Zibi 7’s
Aksie tydens die vorige toernooi in 2019. Foto: Ebenezer Titus