Moordsaak uitgestel tot Augustus

DIE oorledene was baie dronk en het op leë bierbottels en hout gegly waarna hy sywaarts met sy kop teen ’n muur geval het en daarna agteroor op ’n sementblad beland het.

So het Adrian Gerber (29) van Royal Heights, Calitzdorp, verlede week in die Oudtshoorn Streekhof getuig.

Gerber word daarvan aangekla dat hy die aand van 21 September 2018 vir Elrico Booysen met ’n houtpaal oor sy kop geslaan en hy later in die Grootte Schuur Hospitaal aan sy beserings beswyk
het. Hy ontken dat hy Booysen geslaan het.

’n Buurman, ene Kloppers, het egter vroeër getuig dat hy die betrokke aand voor sy huis gesit het. Hy het drie harde slae gehoor en toe hy opkyk, gesien hoedat Gerber vir Booysen met die vierde hou oor sy kop slaan.

Volgens Gerber kon Kloppers nie van sy huis af sien wat gebeur het nie.

Volgens hom het hy en die oorledene saam met nog vriende die betrokke aand gekuier toe die oorledene se vrien­din se eks-kêrel daar stilgehou en gevra het of hy saam kan kuier. Sy het nee gesê en toe sy in die huis in is, is Booysen ag­ter­na omdat hy, volgens Gerber, “baie kwaad” was. Dit is toe dat hy gegly en geval het.

“Elrico was ‘uit’ vir ’n oom­blik en ek en Rachelene April het hom op ’n stoel gehelp. Hy het toe weer van die stoel geval en iemand het die ambulans gebel omdat hy nie gereageer het nie,” het Gerber getuig.

Hy het onder kruisverhoor deur die staatsaanklaer, Mervin Saaiman, aanvanklik getuig dat Kloppers ’n fout maak deur te sê dat die voorval skuins voor middernag plaasgevind het.

“Ek is nou nie seker of dit voor twaalf was nie en sal lieg as ek ’n tyd gee,” het Gerber getuig.

Saaiman wou ook van Gerber weet waarom hulle ’n bewustelose man op ’n stoel laat sit en nie op ’n bed of op die grond laat lê en behandel het nie, waarop hy geantwoord het dat hy nie op daardie oomblik daaraan gedink het nie. Hy het ook nie enige beserings aan die oorledene se liggaam gesien nie.

Saaiman het dit aan Gerber gestel dat sy weergawe nie sin maak nie, omdat die oorledene nie die erge kopbeserings kon opgedoen het deur net te gly en teen ’n muur en weer agteroor te val nie.

Streeklanddros Ntsoki Moni wou op haar beurt van Gerber weet hoe die oorledene se skedel so erg kon gekraak het soos in die mediese verslag aangedui word. Sy het die saak tot 5 Augustus uitgestel en Gerber se borgtog en borgvoorwaardes tot dan verleng. (Deur Garnett Wicomb)