DIE kloof in Nissenville in Ladismith het in ’n onheilsnes ontaard.
Die aanranding op 13 Julie van ’n bejaarde vrou, antie Vytjie Visagie, wat op die rand van dié gevaarlike bos woon, het ’n bekende inwoner, David Opperman, rooi laat sien.
Opperman, wat ook by die Sakeforum betrokke is, verduidelik: “Die bos is die wegkruipplek en die wegsteekplek van smokkelaars. Dis die plek waar daar dwelms gebruik word en misdaad beplan word. Daarom het ek een van die plaaslike kaasfabrieke, Ladismith Kaas, genader om betrokke te raak by die uitroei van die onheilsnes.”
Volgens Opperman is daar tydens ’n vergadering ook die goedkeuring van die polisie vir dié optrede daar gekry.
Met Die Hoorn se besoek aan die kloof op Mandeladag, 18 Julie, was sowat twee dosyn werklose mense, gewapen met kapmesse en grawe, besig om die rye bome en bosse uit te kap en skoon te maak.
Mariaan Mars, een van die organiseerders, sê die kaasfabriek het geld bewillig vir die uitroei van die bos.
“Dit skep ook broodnodige werk vir werklose broodwinners.”
Andy, ’n werklose, sê: “Ek is dankbaar vir die broodjie wat ek deur die projek op die tafel kan sit.
“Terselfdertyd maak ek my gemeenskap baie meer veilig, want die boewe sal nie meer hier hul donkerwerk kan kom aanvang nie.”
Opperman het ook ’n versoek tot die plaaslike regering gerig om hand te kom bysit by dié projek wat heelwat arbeid vereis.
Onheilsbos eis byna bejaarde
Dié groep vrywilligers is vasberade om misdaad in dié bos van onheil uit te roei.
Foto: Deon Meyer