Wedloop vier 10de verjaarsdag

Die begin van die laaste 10 km-been van die avontuurlike Dryland Traverse-veldwedloop wat bekend is vir die goeie gees wat onder deelnemers heers. Foto: Justin Reinecke

Deelnemers aan die wedloop kon uitsigte soos hierdie, uniek aan die Klein Karoo, geniet. Foto: Carli Smith

DIE tiende weergawe van die Rhodes Dryland Traverse moes wel in 2020 uitgestel word weens die Covid-19-pandemie, maar vanjaar kon die vieringe voortgesit word en het atlete van regoor Suid-Afrika die Klein Karoo kom plathardloop.

Die avontuurlike vierdag-veld-wedloop is sedert Donderdag rondom Oudtshoorn aangebied met De Hoek Bergoord as basis. Verder lei die roete van die wedloop deelnemers na die wêreldbekende Kango Grotte, en draai op die Swartberge, ’n Unesco-wêrelderfenisgebied, en lei deur omliggende gebiede.

Die vorige wenner van die manswedloop, Robert Rorich, het vanjaar weer sy beste voet voorgesit en van die begin af die pas aangegee. Al het hy die laaste 10 km-skof kaalvoet gehardloop, was hy die algehele wenner in ’n tyd van 5:27:15 oor die vier dae.

Oudtshoorn se eie John April was tweede (5:40:59), en Ben Kooyman derde (6:53:31).

In die vrouewedloop het Nadia Jooste, wat vanjaar eers ernstig begin meeding het nadat sy drie kinders grootgemaak het, die algehele eerste plek ingepalm het in 6:49:37.

Sarah-Jane Perry, wat regdeur kort op Jooste se hakke was en selfs een van die vier bene gewen het, was tweede (7:01:50) met Yolande Maclean in die derde plek (7:07:33).

In die mansspanwedloop was ’n Oudtshoorniet, Francois Maquassa, en sy spanmaat, Lloyd Bosman van George, die algehele wenners. Die Nedbank SWD Mansspan het stof in hul kompetisie se oë geskop en die wedloop in 5:36:26 voltooi, meer as ’n uur voor die naaste span.

Tweede in die spanafdeling was JC Visser en Mauritz Janse van Rensburg (Team Soul Running, 6:59:39) en derde was Ashley Driver en Brett van Coller (The Drivers, 7:02:36).

Die algehele wenners van die vrouespanafdeling was die voormalige SA Wêreldkampioen­skapatleet Chantel Nienaber en Chloe Bishop, ’n opkomende jong ster. Dié span het slegs ’n paar dae voor die wedloop bymekaar gekom as Team #TrueStory, nadat Bishop Nienaber via Facebook gekontak het. Hulle het die wedloop oorheers en in 7:50:36 gewen.

Tweede was Jeanne Botha en Rochelle Green (Boere Bokkies, 8:17:27), gevolg deur Rebecca Jordaan en Theresa Buchner (Team 32Gi Girls, 8:26:07).

Die gemengdespanafdeling is deur Anel van Wyk en Eddie Mouton van Nedbank SWD Gemeng gewen in 7:23:16. Tweede en derde plekke is onderskeidelik deur Oudtshoorniete Bert en Melanie Verlinde (Team Black Mountain CrossFit, 7:40:50) en Robyn Taylor en Tyrone van Rooyen (Team Smile Knysna, 7:51:07) behaal. (Deur Stefan Skapie Goosen)