Vyf SA rekords spat by tweekamp op Oudtshoorn

Aksie tydens Saterdag se tweekamp. Bo haal ’n jong swemmer alles uit en onder is Johan Windt van Eden wat ’n SA rekord opgestel het. Foto’s: Ebenezer Titus

SATERDAG se Highgate Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms op Oudtshoorn het gesorg vir vyf Suid-Afrikaanse, agt provinsiale en vyf byeenkomsrekords!

Die SA rekords is opgestel deur Marille Bass (WP), Johan Windt (Eden), Micheal Forbes (Grens), Tricia Rix (WP) en Archie Markgraaff (Suid-Vrystaat).

Altesame 616 atlete het ingeskryf wat dit die grootste interprovinsiale byeenkoms in die land maak.

WP het die spanbeker gewen ge-volg deur Boland, OP en Eden.
Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, was die spreker by die geleentheid. As die sukses van Saterdag se byeenkoms ’n aanduiding is, gaan die SA Kampioenskap op 20 en 21 Maart op Oudtshoorn iets besonders wees.

Die top-atlete by vanjaar se Highgate was Windt en Forbes, wat die senior Victor Ludorem gedeel het, Kelly Vroom (WP) – senior Victrix Ludorem, Matthew van Coller (OP) – junior Victor Ludorem en Anke Serfontein (OP) – junior Victrix Ludorem. Benewens Windt het Edie Lutsch, Damian Smith en Landre Cope ook medaljes vir Eden ingepalm.

Vandeesmaand se ligabyeenkomste is liga 1 op 11 Februarie op Mosselbaai; liga 2 op 18 Februarie op George en liga 3 op 25 Februarie op Oudtshoorn. Die Eden Kampioenskap is op 3 Maart op Oudtshoorn. Eden Tweekamp het die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, die Groter Oudts­hoorn Munisipaliteit en die ander borge en donateurs bedank vir hul ondersteuning.