Eden Noord wen Franklin-skild

DIE Eden Noord-span van die Eden Tennisvereniging het die 2020-toernooi om die Franklinskild gewen toe hy Eden Suid verlede Saterdag (25 Januarie) met 27 wedstryde teenoor 19 geklop het.

Die noorde se 1ste-ligaspan het die span van die suide oortuigend met 12-4 geklop terwyl die stryd tussen die 2de ligaspanne meer gelykop verloop het met die noorde wat eindelik met 13-11 koning gekraai het. In die senior mans-afdeling het die suide met 4 wedstryde teenoor 2 gewen.

Die Franklinskild is jare gelede geskenk deur ’n tennisliefhebber, ene mnr Franklin van Herold, met die voorstel dat twee saamgestelde span-ne van die streek daarvoor speel.

Debra Hyde, voorsitter van Eden Tennis, het die Hartenbos, Mosselbaai en Klein Brak Tennisklubs bedank vir die gebruik van hul bane en vir die etes vir die spelers.

“Dit was weereens ’n baie geslaag-de dag met goeie wedywering en puik kameraderie,” het sy gesê.

Die volledige uitslae is as volg:
1ste Liga: Noord 12, Suid 4.
2de Liga: Noord 13, Suid 11.
Senior mans: Suid 4, Noord 2. (Deur Garnett Wicomb)