Ntini help Cobras seëvier

Thando Ntini vier een van sy paaltjies.
Glenton Stuurman, ’n produk van Oudtshoorn, het vir die Warriors gespeel en een paaltjie laat kantel.

THANDO NTINI, seun van een van Suid-Afrika se beste snelboulers nog, Makhaya Ntini, het Son-dag op die Rec op Oudtshoorn ’n deurslaggewende rol gespeel in die Cape Cobras se oorwinning in die 2019/2020 Momentum Eendagreeks met 31 lopies oor die Warriors.

Ntini het in sy eerste wedstryd vir die Cape Cobras, die span van die Wes-Kaap, vier paaltjies laat kantel vir 36 lopies in 9.1 boulbeurte voordat hy met ’n besering die veld verlaat het.

Sy skittervertoning het ’n deurslaggewende rol gespeel in die Cobras se oorwinning op die Rec wat een van die Cobras se tuisvelde is.

Die Cobras, wat die lootjie gewen en besluit het om eerste te kolf, se pasgekose Protea-speler en openingskolwer Pieter Malan het 106 lopies van 114 balle aangeteken, sy twaalfde honderdtal in sy professionele loopbaan. Malan se beurt het nege viere en twee sesse ingesluit.

Jason Smith (76 van 86 balle, insluitend sewe viere) en George Linde (31 van 14 balle, insluitend drie sesse) het ook vir die Cobras uitgeblink.
Die Cobras het in hul beurt altesame 274 lopies aangeteken. Die wedstryd is weens die hitte beperk tot 49 boulbeurte aan elke kant.

Die Warriors was goed op dreef met 33 lopies vir geen paaltjies toe Ntini se boulbeurt aanbreek. Dit het hom slegs drie balle gevat om Matthew Breetzke (23) uit te haal. Met sy tiende bal het hy ook Gihahn Cloete (16) se paaltjie laat kantel.

Linde het twee paaltjies gevat vir 58 lopies, terwyl die res elk ’n paaltjie geoes het.

Die Warriors kon eindelik nie hul kolfbeurt voltooi nie en is in 47.1 boulbeurte almal uitgehaal vir 245 lopies.

Be the first to comment on "Ntini help Cobras seëvier"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*