Vroue hardloop voor in Parkrun

Susan van der Westhuizen (bo) en Solly Lottering (onder). Foto’s: Garnett Wicomb

VROUE het Saterdag (4 Desember) stof, of is dit modder, in die oë van die mans geskop wat aan die 265ste Oudtshoorn Parkrun by Surval Olyflandgoed deelgeneem het, toe hulle die eerste vier plekke ingepalm het.

Susan van der Westhuizen het met ’n persoonlike beste tyd van 26 minute 58 sekondes as wenner uit die stryd getree met Cecelia Muller – wat vir die eerste keer deelgeneem het – wat tweede was.

’n Ongeregistreerde jong vrou het derde geeïndig, met Tarren Jullies in die vierde plek.

Solly Henning het Saterdag die mylpaal bereik om 50 Parkruns agter sy naam te skryf. Hy het – behalwe drie – al vyftig op Oudtshoorn gehardloop.

Die beste tye van Saterdag se 26 deelnemers wat hulle weer nie deur die reën laat afskrik het nie, was Susan van der Westhuizen (26:58), Cecilia Muller (27:17), Tarren Jullies (28:14), Abraham Hendricks (28:15), Francois le Roux (28:18), Geepee Smith (28:22), Henry Carstens (28:28), Brian Jullies (28:33), Albertus Kennedy (28:48), Conrad Jullies (28:49), Matthys Myburgh (30:03), Annemarie le Roux (30:13), Cara Theron (31:09), Schalk Cloete (32:18) en Ellenore Cronje (38:02). (Deur Garnett Wicomb)