Vlakkiekrieket van epiese proporsies op Oudtshoorn

BO: Aksie tydens die groot wedstryd tussen die Oudtshoorn Kings (swart hemde) en hul teenstanders, die Worcester Pumas (Foto: Ebenezer Titus). Die Oudtshoorn Kings en Worcester Pumas, tesame met onder meer spanbestuurders en ondersteuners. (Foto veskaf)

VLAKKIEKRIEKET-AKSIE uit die boonste rakke het die naweek op Oudtshoorn plaasgevind toe die Oudtshoorn Kings – ’n span saamgestel uit die beste spelers van al Oudtshoorn se vlakkie- krietspanne – teen die Worcester Pumas te staan gekom het, op die Kings se tuisveld.

Die naweek se aksie het Saterdag in Hunters-park, in 17de Laan naby Dassieweg begin met ’n “Pro 10 Knockout”-toernooi, waar spanne van Oudtshoorn meegeding het teen mekaar en ook die Pumas, as opwarming vir die volgende dag se wedstryd.

Oudtshoorn se Tornadoes, Legends, Firestones, Pro Stars, Neppon Warriors, Hungry Lions, Champs en die Pumas het in 10-boulbeurt-wedstryde meegeding.

In hierdie uitklop-toernooi se finaal het die Pro Stars teen die Pumas gespeel, met die Pumas wat met 11 lopies gewen het. Die Pumas het 82 lopies vir vyf paaltjies aangeteken, terwyl Pro Stars slegs 71 lopies kon aanteken, almal uit.

In Sondag se wedstryd het die Oudtshoorn Kings, beter bekend as die OPL Kings, die Pumas aangepak in ’n ses-boulbeurtwedstryd.

Die Pumas het 26 lopies vir vier paaltjies in hul toegelate ses boulbeurte aangeteken, maar Oudts-hoorn se Kings het ander planne gehad. Die Kings het in slegs 4.4 boulbeurte 28 lopies vir twee paaltjies behaal.

In die T20-hoofwedstryd, waar die Kings eerste gekolf het, het die Oudtshoorn-span 111/9 in 20 boulbeurte aangeteken. Die Pumas kon slegs 89 lopies in 18.4 boulbeurte aanteken voordat almal uitgeboul is.

Koördineerder vir Eden Rainbow Development Projects (ERDP) wat die gewilde Oudtshoorn Premierliga (OPL) aanbied, Gavin Pietersen, sê dit was defnitief ’n onvergeetlike naweek van vlakkiekrieket, vir beide dorpe se spanne.

“Sherville Welcome, die Pumas se spanbestuurder, het Oudtshoorniete ook bedank vir hul gasvryheid en die manier hoe sy span ontvang was,” sê Pietersen.

Die ERDP is ’n nie-winsgewende organisasie wat projekte in verband met sportontwikkeling loods om veral sosiale probleme in die gemeenskap aan te spreek deur sport. Vanjaar is ook die tiende jaar dat hierdie organisasie die OPL-vlakkiekriekettoernooi aanbied. (Deur Stefan Skapie Goosen)