Highgate Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms lok agt provinsies na Oudtshoorn die naweek!

Die Eden Tweekampspan van 2022 - Foto: Argief

HIERDIE naweek, op 3 en 4 Februarie, kom meer as 550 atlete van agt provinsies op Oudtshoorn deelneem aan dié gewilde Highgate Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms, aangebied deur die Wes-Kaapse departement van sport en kultuur en die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, tesame met Eden Tweekamp!

Naas die SA Kampioenskappe is dit die grootste tweekampbyeenkoms in Suid-Afrika. Dit is die 33ste uitgawe van die byeenkoms wat aangebied word, en plaaslik georganiseer word deur Dave van der Walt van Eden Tweekamp. Hierdie byeenkoms is sy laaste een.

Volgens Van der Walt word tweekamp uit die boonste rakke verwag in aanloop tot die SA’s, wat 31 Maart en 1 April op Stellenbosch aangebied word.

Van die eregaste wat reeds aangedui het dat hulle teen- woordig gaan wees, is die Wes-Kaapse minister van sport en kultuur, Anroux Marais; die burgemeester van Oudtshoorn, Chris Macpherson; die voorsitter van die Eden Sportraad, Desmond Speelman; Blackie Swart, president van SA Tweekamp; lede van SA Tweekamp-bestuur en die voorsitters van die provinsies.

Die verrigtinge begin alreeds Vrydagaand met die spanbestuurdersfunksie op Highgate Volstruisplaas gevolg deur die amptelike opening om 07:30 Saterdagoggend op die De Jager Sportkompleks en NA Smit-swembad, met die gala-funksie en medaljeparade Saterdagaand op Highgate.

Eden Tweekamp, die aanbieder, word ongelooflik ondersteun en bygestaan deur WP en Boland asook beamptes van die ander provinsies. “Hierdie byeenkoms is ’n geweldige ekonomiese inspuiting vir Oudtshoorn en die organiseerder,” sê Van der Walt. Hy skat dat dit rondom R4,5 miljoen kan wees.

Oudtshoorniete word genooi om die byeenkoms by te woon.