OPKNAPPINGS by die Oudtshoorn Rolbalbaan beteken goeie nuus, maar nie net vir lede nie.
Die rolbalklub se nuwe spreiligte maak dit nou moontlik dat al die spanne wat deelneem aan die gewilde Besigheidsliga dit op Woensdae kan doen.
Spanne wat die afgelope drie weke op Donderdae moes speel, het reeds gisteraand by dié wat gewoonweg op Woensdae speel, aangesluit.
Volgens Alewyn Hanekom, woordvoerder vir die Oudtshoorn Rolbalklub, is hierdie ’n opwindende verwikkeling. “Nou gaan die vonke spat,” sê hy.
Die liga se derde ronde van hul besigheidsliga is verlede week steeds oor twee dae voortgesit, met die span van Van der Berg Vervoer – wat vir twee weke voorgeloop het op punteverskil – wat tot vyfde op die ranglys geval het.
Na beide dae (10 en 11 Maart) van die derde ronde is daar nou vier spanne wat meeding om die eerste plek, waar daar ná die tweede ronde sewe spanne was wat om die topposisie meegeding het, slegs deur punteverskil geskei.
Die top-tien spanne na die derde ronde: Country Club, Wesbank Laerskool 1, Jodi Muller Financial Solutions, Riempie, Van der Berg Vervoer, Du Plessis Motors, TFASA, Helende Woord, HSCS en Renault/Nissan. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Verwikkelinge op die rolbalbaan
Alle deelnemers aan die Oudtshoorn Rolbalklub se huidige besigheidsliga sal nou, soos met dié wat verlede jaar op die hoofbaan gespeel het hier bo, onder spreiligte kan speel.
Foto: Stefan Skapie Goosen