Joshlynn en Wian mik vir groen & goud in Bloemfontein

Wian Espach (links), Joshlynn se afrigter Rudie van der Poel en Joshlynn Pretorius. (Foto verskaf)

TWEE jong Oudtshoorniete van die Oudtshoorn Muurbalklub het die afgelope twee naweke hul klub en die dorp se naam hoog gehou toe hulle aan die Eden muurbalproewe op George gaan spiere bult het.
Beide is gekies is om Eden te verteenwoordig.

Wian Espach (13) van Langenhoven Gimnasium het op 6 Maart sy o14 Eden-kleure verwerf, terwyl Joshlynn Pretorius (12) van Wesbank Laerskool haar o13-kleure op Saterdag 13 Maart verower het. Hulle was die enigste Oudtshoorniete wat dit kon regkry. Beide behoort aan die einde van April in Bloemfontein deel te neem, en sal poog om plekke in die SA Plattelandspan te behaal. Hierdie datum moet nog vasgestel word.

Joshlynn en Wian is beide baie opgewonde oor hul prestasies, en beide sê hulle is dankbaar dat al die harde oefening en voorbereiding vrug gedra het. “Dis net met die hulp van die Here en die talent wat hy my gegee het dat ek dit kan doen. En dankie aan oom Poelie, my afrigter, vir al sy hulp, raad en motivering,” voeg Joshlynn by.

Wat Joshlynn se prestasie nog meer indrukwekkend maak is dat sy in Mei 2020 gediagnoseer is met diabetes, en moet dus wroeg met dié siekte terwyl sy haar sport beoefen. Sy staan ook stil vir niks nie, en speel netbal vir haar skool en het in 2020 haar SWD-kleure vir spiesgooi verower.

“Sy’s ’n kind wat sal ‘fight’ vir dit wat sy in die lewe wil bereik. Ons leer nog om die sport en diabetes te hanteer, soms sal haar suiker skielik val dan moet ons maar Super C kou soos die naweek, maar nie eers dit het haar laat stop nie,” sê haar ma, Ursula.

Beide muurbalstêrre se ouers straal ook van die trots.

“Ons (Ursula en Marius Pretorius) is dankbaar dat diabetes haar nie terug gegooi het nie, en sy nog elke dag ten volle uitleef. Ons sê ook diabetes is nie ’n siekte nie, maar net ’n kondisie wat ons moet beheer. Joshlynn wil ook graag ’n verskil maak in ander kinders met diabetes se lewens, om vir hulle te kan wys dat hulle net so ’n normale lewe kan leef, solank jy jouself oppas,” sê Ursula.

“Ons (Willem en Wilma Espach) is ook dankbaar vir die volwassenes by Oudtshoorn Muurbalklub wat Wian so mooi gehelp het, en altyd bereid was om teen hom te speel en hom aangemoedig het om sy beste te doen,” sê Wian se ma, Wilma. (Deur Stefan Skapie Goosen)