Eljada-Kairos Skool se gholfdag lok meer as 100 spelers

Een van die 104 deelnemers aan die Eljada-Kairos Skool Gholfdag slaan af. (Foto verskaf)

Rudi Steyl het vir ’n rede so breed ge-glimlag – hy was die “barrel of booze”-wenner by die Eljada-Kairos Skool se gholfdag.

DIE Eljada-Kairos Skool se jaarlikse gholfdag het Saterdag 13 Maart 104 spelers in die uitmergelende hitte gelok vir ’n potjie gholf op die Oudtshoorn Gholfbaan, en ’n goeie doel.

Dié skool op Oudtshoorn, wat voorsiening maak vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes, hou jaarliks hierdie gholfdag as fondsinsameling.

Volgens Hendri Calitz, adjunkprinsipaal, het mense ten spyte van die hitte opgedaag om die skool te ondersteun. “Dit was een van ons grootste gholfdae, en een van die grootste nog hierdie jaar by die gholfbaan. Dankie aan almal wat bygedra het,” het hy gesê.

Die fondse word ingesamel om bykomstige toerusting en benodighede vir die leerders van die skool aan te koop.