DIE gewilde Eden Straatmylreeks skop vanjaar op 16 Desember af in Oudtshoorn met die Klein-Karoo Straatmyl wat in Baron van Reedestraat gehardloop word. Dit word op 18 Desember in Hartenbos afgesluit met die ATKV Straatmyl. Die Swartberg Baanmylwedloop val dus weg.
Meer as R40 000 se prysgeld kan gewen word. Die hoofborge is NWU, ATKV Hartenbos en die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport. Addisionele borgskappe en bystand word verleen deur Oudtshoorn Ford, Surval, Kleinplaas, Karoopot, ASWD, Asics, Top Gear, Eden FM, CKI, Mosselbaai Munisipaliteit (burgemeesters-kantoor), Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, en natuurlik die vrywilligers!
In 2022 was die standaard van die wenners uitstaande met Sibiya Nkosinathi van UJ wat op Oudtshoorn beide die Klein Karoo Straatmyl [3:59.19] en die Swartberg Baanmyl [3:58.95] in droommyltye gewen het. Charné Swart (Tuks) wen die vrouestraatmyl in 4:37.26 terwyl die immergroen Kesa Molotsane (Murray & Roberts) die baanmyl in 4:55.92 wen.
By die ATKV Straatmyl in Hartenbos het Nkosinathi weer sy staal op ’n moeilike baan getoon en met 4:04.97 gewen terwyl Swart eerste was in die vrouewedloop in ’n tyd van 4:59.76. Dié twee atlete is ook aangewys as die Grand Prix-wenners vir 2022.
Heelwat junior atlete het ook na vore getree – Caitlyn Cawood (Nedbank), Luciaano Slawers (Superkids Riversdal), Alri Verster (Potch Gimmies), Anja van Heerden (Dogsquad), Rico Leijenaar (Potch Gimmies), Corné de Fouw (Mon- nas), Zian Brekman (Zwartkop), Simone van der Merwe (Athletes Academy), Jacee Farmer (NWU), om maar ’n paar te noem.
Die wêreldwye status van straatmyle is verhoog nadat World Athletics dit bygevoeg het by die nuwe wêreldpadkampioenskapsprogram wat vanjaar vir die eerste keer in Latvia aangebied is.
Die Eden Straatmylreeks se wenners en rekord-houers, Ryan Mphahlele en Carina Viljoen, was ook deel daarvan.
Die Eden Straatmylreeks bied nou aan atlete die geleentheid om Atletiek SA se keurders te beïndruk vir moontlike insluiting in die nasionale spanne.
Die Klein Karoo Atletiekfonds doen baie om jong atlete te ontwikkel. Beginners word aangemoedig om ook deel te neem.
Atlete kan in vyf ouderdomskategorieë in die Eden Straatmylreeks meeding – Jong Talent (gebore in 2009-2014), Jeug (gebore in 2006-2008), Junior (gebore in 2004-2005), Ope en 40+. Daar is ook ’n prys vir die beste ASWD mans- en vroue-atleet. ’n Potjiekos-ete wat ’n kenmekaar insluit, word oudergewoonte by Kleinplaas op 16 Desember aangebied.
Meer inligting oor die wedlope asook inskrywingsvorms is op www.edenmiles.co.za en op Facebook beskikbaar.
Verkorte Eden Straatmylreeks
Deelnemers van die immergewilde Straatmylreeks wat elke jaar in Baron van Reede gehardloop word. Foto: Verskaf