EDEN Tweekamp bied jaarliks in samewerking met die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport (DCAS) ’n slypskool in kapasiteitsbou aan. Dit is deel van hulle sosiale-ontwikkelingsprogram.
Daar word gekonsentreer op vroue en gestremde persone en is prakties en basies van aard.
Op 15 November 2023 het 36 mense dié kursus by die Eden Sport-akademie op Oudtshoorn bygewoon – en dit in ’n snikhete 43ºC! Jean Neethling (DCAS se Eden-kantoorhoof) het met die opening vir Eden Tweekamp geprys vir hulle inisiatief om jaarliks so ’n slypskool aan te bied.
Adri Odendaal van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) het die groep meer vertel oor Kansa en spesifiek op borskanker gefokus.
Delia van Biljon (swem) en Dave van der Walt (baan) het ’n tydhoukursus so prakties moontlik aangebied.
Van der Walt het ook aan die kursusgangers vertel dat hulle waardevolle bydraes kan lewer in hulle gemeenskappe, ten spyte van hulle tekortkominge.
Hy het hulle aangemoedig om betrokke te raak by die skole in hulle gemeenskap en hulle dienste aan te bied.
Neethling en Stephnie McKay (Eden Tweekampvoorsitter) het aan die einde van die slypskool die sertifikate oorhandig waarna almal ’n ligte aandete en heerlike koue sap geniet het.