Union Stars Krieketklub het onlangs, tydens ’n spog prysuitdelingsfunksie in Steppaz Lounge die klub se presteerders van die 2022/23 seisoen vereer.
Micaela Andrews het die toekenning vir Speler van die Seisoen ontvang terwyl die klub se T20-vroue- span, wat vanjaar Krieket Suid-Afrika (KSA) se nasionale T20 kampioenskap in Potchefstroom gewen het, die Simon en Daphne Swigelaar wisseltrofee ontvang het vir die invloedrykste lid van die klub.
Die klubsekretaris, Katrisha Strydom, is aangewys as Administrateur van die Seisoen terwyl Keenan Arries en Tyrese Karelse onderskeidelik aangewys is as die klub se beste kolwer en bouler van die seisoen.
Verskeie oudspelers van die klub het tydens die geleentheid toekennings van dank ontvang.
Die klubvoorsitter, Michelle Weyers, het die vrouespan geloof vir hul prestasie in die nasionale T20 kampioenskap en ook al die ander wenners geluk gewens.
Die klub se ere-president, die 89-jarige Simon Swigelaar, wat op 15-jarige ouderdom by die klub aange- sluit het, het ’n spesiale toekenning ontvang vir 75 jaar se lojaliteit en diens aan die klub.
Hy het in sy toespraak gesê as jy iets uit jou hart doen jy nie betaling of toekennings daarvoor verwag nie.
“Dit gaan vir my om hulp te verleen en ek is so bly om op 89 nog ’n toekenning te kry.”
Hy het ook sy vrou se rol in sy lewe besing en gesê dat hy sonder haar en sy kinders se ondersteuning nie kon bereik wat hy bereik het nie.
Hy is steeds trots om ’n lid van Union Stars te wees en waardeer wat die klub nog vir hom beteken.
Hy het die hoop uitgespreek dat die klub steeds van krag tot krag sal gaan en nog baie trofeë sal wen, en sal help om hom eendag te begrawe.
Ander toekennings het gegaan aan: Jean Heunis as beste kolwer (mans), Ayabonga Ngondo as beste bouler (mans), Micaela Andrews as beste kolwer (vroue), Haroline Rhodes as beste bouler (vroue), Javier Philander as beste kolwer (Promosie Afdeling mans B-span) en Thurston Wessels as beste bouler (Promosie Afdeling mans B-span). (Deur Garnett Wicomb)
Union Stars vereer hul presteerders
Union Stars se vrouespan ontvang die Simon en Dahne Swigelaar wisseltrofee van die klub se erevoorsiter Simon Swigelaar. Foto: Garnett Wicomb