Twee tennistitels vir jong Zander Petzer

Zander Petzer. Foto: Garnett Wicomb

DIE 16-jarige Zander Petzer het Saterdag (27 Augustus) die jongste mans-enkelspelkampioen van die Wesbank Tennisklub geword toe hy die verdedigende kampioen, Jacques de Beer, in ’n spannende eindstryd met 7-5, 6-3 geklop het.

Petzer het daarna ’n tweede titel ingepalm toe hy saam met Hugo van der Berg die mans-dubbelspel gewen het deur vir Pietman Schoeman en Johan Erasmus met 6-4, 6-4 te klop.

Pieter Schoeman was die wenner van die “back draw” nadat hy Garnett Wicomb met 8-4 geklop het.

Die toernooi wat vanjaar deur Pam Golding Eiendomme geborg is, is Saterdag met die klub se 2022-kermis afgesluit.

Die 14-jarige Franco van Rensburg het R1 000 in sy sak gesteek toe hy in ’n kompetisie waarin spelers van alle ouderdomme kon deelneem, vir Pieter Barnard in die eindstryd ge­klop het.

Die voorsitter van die klub, Louis Uys, het met die prysuitdeling die klub se dank uitgespreek teenoor die organiseerder van die toernooi, Pieter van der Walt, al die deelnemers en almal wat ’n bydrae gelewer het tot ’n baie suksesvolle kermis.

Die doel van die kermis was om fondse in te samel vir die opgradering van die klub se bane. Die klub doen ’n beroep op sakelui en besighede in die dorp om betrokke te raak.

Vir meer besonderhede skakel Louis Uys by 082 8358 555. (Deur Garnett Wicomb)