Die gewilde Eden Straatmylreeks vind vanjaar weer plaas en word aangbied deur die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF). Meer as R60 000 se prysgeld is op die spel.
Die reeks skop op 14 Desember af met die George Straatmyl in Yorkstraat, George, gevolg deur die Klein Karoo Straatmyl wat in Baron van Reedestraat, Oudtshoorn gehardloop word.
Dit word afgesluit op Hartenbos met die ATKV Straatmyl op 18 Desember in Paardekraalweg.
Tot op datum het heelwat van Suid-Afrika se top atlete aangedui dat hulle aan die reeks gaan deelneem.
Die manswedlope beloof vuur-werke wanneer Werner Gouws, ’n belowende junior oor 800 m, sy opwagting maak teen gevestigde sterre.
Hy sal die stryd aansê teen Thinus Erasmus, wat in 2024 die atletiekwêreld verstom het toe hy ’n tyd van 3:57,7 gehardloop het en die jongste atleet geword het om ’n “droommyl” in die geskiedenis van die Eden Straatmylreeks te voltooi.
Nog ’n sterk teenstander is Beyon Prince, ’n voormalige Jeug-kategorie wenner en uitblinker uit Basil Abelse se Riversdal Super Kids-program.
Saam met hulle keer die verdedig-ende kampioen Keanu Domingo (beste 1500 m van 3:36) en die voormalige jeugwenner Corné de Fouw terug, wat verseker dat die manskompetisie opwindend gaan wees.
Die dameswedlope is ewe boeiend. Voormalige wenner Simonay Weitsz sal sterk mededinging kry van verlede jaar se sensasionele 18-jarige kampioen Andrea Steynberg (PTC), wie se oorwinning haar as een van die blinkste jong talente in Suid-Afrikaanse middelafstand-atletiek gevestig het.
Hulle word vergesel deur Alri Verster, dogter van Springbok Jean en Alta Verster, wat reeds indruk maak in die junior afdeling, en plaaslike gunsteling Jandri Snyders van Hartenbos, wat ’n sterk tuisdorp-element aan die byeenkoms toevoeg.
Met Andrea Steynberg wat haar titel verdedig en Simonay Weitsz wat nog ’n kroon jaag, beloof die Dames Ope afdeling ’n spannende stryd.
Meer inligting omtrent hoe om in te skryf asook die program is op www.edenmiles.co.za sowel as op Facebook beskikbaar.
Top atlete in aksie
Foto verskaf