TWEE Oudtshoorniete het onlangs ’n skitterprestasie op die tennisbaan behaal toe hulle die bronsmedalje verower het tydens die 2022 Internasionale Tennisfederasie (ITF) se wêreld seniors tenniskampioenskap in Amerika.
Christine van Coller en Rida Bester, wat al vir baie jare as dubbelspaar saamspeel, was lede van die SA 55+ span wat aan die wêreld spankompetisie deelgeneem het, en daarna ook vir die individuele kompetisie ingeskryf het.
Van Coller, wat deesdae in Hartenbos woon en tans die eerste gekeur is in die 55+ enkelspel, was vir jare lid van die Wesbank Tennisklub op Oudtshoorn, maar is tans lid van die Hartenbos Tennisklub.
Volgens Jacques de Beer van die Wesbank Tennisklub, wat ook lid en kaptein was van die SA 50+ mans-span, was daar 16 pare wat vir die 55+ dames dubbelskampioenskap ingeskryf het wat in Palm Beach Gardens, Miami, Florida gespeel is.
Van Coller en Bester het op die groen kleibane in die eerste rondte die vierde gekeurde paar van Peru, Monica Valdez en Tita Zea, met 6-1, 6-1 geklop en daarna in ’n spannende wedstryd die span van Kanada, Jill Gardner en Adrienne Simmons, met 7-6, 2-6 en 14-12 geklop.
Hulle het daarna in een van die halfeindstryde met 3-6, 3-6 teen Mariana Matilde en Liliana Patron van Argentinië, die uiteindelike kampioene, verloor en daarmee die bronsmedaljes verower.
• Nog ’n speler van die Wesbank Tennisklub, Elmarie Lategan, was kaptein van die 75+ super-seniors vrouespan. (Deur Garnett Wicomb)
‘Tennistweeling’ wen brons in Amerika
Christine van Coller (links) en Rida Bester spog met hul brons medaljes. (Foto verskaf)