Fietsrykampioenskap bring aksie na Oudtshoorn

Deelnemers wag om tydens ’n vorige fiets-rykampioenskap weg te spring in Bridgton se strate. Foto: Stefan Skapie Goosen

OUDTSHOORNIETE sal van Maandag (11 Julie) af op die uitkyk moet wees vir jong fietsryers in die strate wanneer die dorp gasheer speel vir die Nasionale Jeugfees Fietsrykampioenskap.

Die Eden Fietsryvereniging bied vanjaar die kampioenskap aan wat op Donderdag (14 Julie) eindig.

Volgens Sonja Schultz, die vereniging se sekretaresse, gaan ongeveer 1 500 mense op Oudtshoorn toesak vir die geleentheid. Dit sluit onder meer fietsryers, hul familielede en afrigters, en toeskouers in van al nege provinsies.

“Dit is ’n groot voorreg om weer eens die Jeugfees te kan aanbied. Dit gaan ’n vol program wees, en met al die mense wat ons verwag gaan dit ’n groot finansiële inspuiting vir ons dorp beteken,” sê Schultz.

Die program lyk soos volg: Maandag vind ’n kriterium-fietsren plaas in Bridgton se strate. ’n “Kriterium” is ’n fietsren met ’n massabegin, en is ’n multi-rondte-byeenkoms wat op ’n geslote baan gehou word. Dit verg van deelnemers dat hulle ’n voorafbepaalde aantal rondtes moet ry, of dat hulle vir ’n voorafbepaalde tyd aaneen moet ry.

Dinsdag vind beide ’n padfietswedren en ’n spantydtoetsren plaas.

Woensdag skuif die aksie na die RedRock Raceway ovaalrenbaan-omgewing, waar ’n bergfietswedren sal plaasvind.

Die Bridgton-gemeenskap sal Donderdag weer die middelpunt van die aksie wees met ’n BMX-fietsren.

Volgens Schultz sal van die beste ryers in die land deelneem. Sy het bygevoeg dat die Jeugfees se aanbieding nie moontlik kon wees sonder die ondersteuning van plaaslike besighede, munisipale en staatsdepartementele hulp nie.

“Kom ondersteun gerus ons jong en opkomende ryers,” het sy aangemoedig.
(Deur Stefan Skapie Goosen)