Streng optrede teen oortreders by sport- en ander geleenthede

DIE Oudtshoorn Veiligheids- en Sekuriteitkluster het verlede week aangedui dat daar streng opgetree sal word teen mense wat tydens geleenthede, ook sportgeleenthede, enige Vlak 4 Covid-19-regulasies oortree.

By ’n vergadering verlede Woensdagoggend (30 Junie) van die munisipaliteit se rampbestuurs- en wetstoepassingsafdeling asook die Polisie is besluit dat daar geen verdraagsaamheid (zero tolerance) sal wees teen onwettige byeenkomste nie.

Dié besluit is geneem weens klagtes oor onwettige optrede tydens sportgeleenthede en byeenkomste die voorafgaande naweek.

Die Hoorn het twee dae voor die vergadering dit ook onder die munisipaliteit se aandag gebring dat klagtes van inwoners ontvang is oor groot groepe mense wat tydens die Vlakkie-kriekettoernooi die naweek van 26 en 27 Junie op verskeie plekke in Bridgton saamgedrom het, en ook klagtes oor mense wat nie sosiale afstand handhaaf en nie maskers op straat dra nie.

Volgens Adel Supra-Vertue, die munisipaliteit se hoof van brand, redding en rampbestuursdienste, sal geen byeenkomste goedgekeur word wat nie aan die Vlak 4-regulasies voldoen nie.

Slegs sportbyeenkomste wat deur die Polisie en Departement Gesondheid goedgekeur is, mag plaasvind. Geen sportgeleentheid sal voorts op kort kennisgewing goedgekeur kan word nie omdat die goedkeurings tyd neem.

Die straf vir enigiemand wat die Vlak 4-regulasies oortree, is ’n boete en/of tronkstraf van tot ses maande. (Deur Liesel le Roux)