Nie eens wind kan duiwe keer

“Nou wanneer kom my duiwe terug?” MJ Pienaar, die seun van Klein Karoo Lofts se Jacques Pienaar, wag elke Saterdag só vir sy duiwe om terug te kom. (Foto verskaf)

DIE Oudtshoorn Posduifklub (OPK) se lede het hul wedvlugduiwe Saterdag (3 Julie) op Britstown in die Noord-Kaap losgelaat, te midde van sterk winde.

Volgens Christo Senekal van die OPK, was dit tog ’n mooi dag vir die vlugte.

“Die wedvlugte het goed afgeloop, en dit was net die wind wat nie in ons guns was nie. Die voorlopers het die pas goed aangegee,” het Senekal gesê.

Om Britstown toe te ry, padlangs met die N12, kan mens minimum so vier-en-’n-half ure neem, en oor byna 430 km dra, maar die OPK se duiwe kon die afstand verkort na tussen 343 km en 346 km.

In die OPK se Jaaroudafdeling het George Erasmus se duiwe die top-vier plekke behaal om sy teenstanders uit te stof, terwyl een van Klein Karoo Lofts (KKL) se duiwe in die Ope-afdeling eerste tuis geklok het.

Volledige Jaaroudafdeling-uitslae: Erasmus – 1, 2, 3, 4, 7, 8 en 13; Hannes Smit – 5, 16 en 26; KKL – 6, 14, 19 en 29; Raubenheimer Broers – 9, 10, 11, 17, 18, 24 en 25; Johan de Jager – 12, 15, 20, 21, 22, 23, 27 en 28.

Volle Ope-afdeling-uitslae: KKL – 1, 6, 7, 16, 17, 20 en 26; Raubenheimer Broers – 2, 5, 8, 11, 23 en 27; De Jager – 3, 4, 13, 14, 15, 21 en 22; Erasmus – 9, 10, 19, 24 en 25; Smit – 12 en 18. (Deur Stefan Skapie Goosen)