Sport gaan gebuk onder Covid

Van die reeks voertuie wat in 2020 aan die Richard Griessen Klein Karoo Kampioenskappe op Oudtshoorn se Redrock Raceway, voorheen bekend as die Arnold de Jager Ovaalrenbaan,deelgeneem het. Vanjaar sal hulle moontlik tot 9 Oktober moet wag om voet in die hoek te sit. Foto: Stefan Skapie Goosen

SEDERT pres Cyril Ramaphosa Suid-Afrika Sondag, 27 Junie, onder Vlak 4 Covid-19-regulasies geplaas het, gaan sport weer eens gebuk onder die inperkingsmaatreëls.

In die Klein Karoo is sportmanne, sportvroue en sportliefhebbers gefrustreerd oor die gebrek aan sport.

Onder die menigde sportbyeenkomste wat reeds in die slag gebly het, is die Oudtshoorn Premierliga (OPL) T20-liga se halfeindstryd tussen die Neppon Warriors en Firestones.

Hierdie wedstryd, wat reeds Sondag, 27 Junie, gespeel is, moet oorgespeel word omdat bevind is dat die aante-keninge van die spanne se tellinghouers van mekaar verskil.

Die wedstryd sal eers ná die huidige aangepaste Vlak 4-inperking oorgespeel word, waarna die eindstryd eers kan plaasvind.

Gholfspelers se dae van meeding is ook voorlopig op ys.

Die Oudtshoorn Besigheidskamer se maandelikse gholfdag, wat Woensdag 7 Julie, sou plaasvind op die Oudtshoorn Gholfbaan, is vandeesweek uitgestel weens die inperkingsmaatreëls.

’n Nuwe datum moet nog aangekondig word.

Die derde sportbyeenkoms wat in die slag gebly het weens die nuutste Covid-maatreëls, volgens Die Hoorn se kennis, is die Richard Griessen Klein Karoo Kampioenskappe wat Saterdag (10 Julie) vir aksie sou sorg op Oudtshoorn se Red-rock
Raceway, voorheen bekend as die Arnold de Jager Ovaalrenbaan.

Die wedrenne het verlede jaar meer as 140 deelnemers van regoor Suid-Afrika gelok, wat in dertien onderskeie afdelings meegeding het.

Volgens Dirk van der Westhuizen, Oudtshoorn Motorklubvoorsitter en organiseerder, sal hierdie byeenkoms moontlik op 9 Oktober vanjaar plaasvind. (Deur Stefan Skapie Goosen)