’N 26-JARIGE man van Calitzdorp wat ’n vriend met ’n hokkiestok doodgeslaan het, is in die Oudtshoorn Streekhof aan strafbare manslag skuldig bevind.
Jesreal Rabie het onskuldig gepleit op ’n klagte van moord, maar wel skuldig aan strafbare manslag. Hy sê in ’n pleitverduideliking dat hy nie bedoel het om Jan Werwerts dood te maak nie, maar homself verdedig het.
Volgens Rabie het hy en ’n paar vriende die betrokke Saterdag saam rugby gaan kyk en gedrink. Hulle is daarna terug na sy huis op die plaas St Helena waar hulle verder gekuier het.
Hy het die oorledene later gevra om huis toe te gaan, maar die oorledene was onwillig.
Volgens Rabie het hy gaan lê en later wakker geword van geluide buite sy huis. Die oorledene het hom toe met ’n klip gekap en met ’n byl en mes gedreig. Hy het ’n hokkiestok gaan haal en Werwerts een hou daarmee geslaan waarna hy op die grond geval het. Terwyl hy op die grond gelê het, het hy hom nog ’n keer geslaan.
Hy het later verneem dat Werwerts gesterf het.
Rabie het erken dat dit nie nodig was om Werwerts ’n tweede hou toe te dien nie omdat sy lewe nie toe in gevaar was nie.
Hy het erken dat hy die grense van selfverdediging oorskry en daarvoor gestraf moet word.
Die staat het Rabie se verduideliking aanvaar en hy is deur streeklanddros Daniel Boks skuldig bevind aan strafbare manslag. Vonnisverrigtinge is tot 21 Julie uitgestel vir ’n proefbeampte en Rabie se borg tot dan verleng.
Nadia Arnolds is die aanklaer, terwyl adv Benito Metembo namens Rabie verskyn. (Deur Garnett Wicomb)