Man probeer glo 9-jarige meisie verkrag

DIE saak teen ’n man van Bongolethu in Oudtshoorn wat daarvan aangekla word dat hy probeer het om ’n negejarige meisie te verkrag, is in die Oudtshoorn Streekhof na die getuienis van die kind vir verdere ge­tuienis tot 27 Julie uitgestel.
Shane Goliath (28) staan tereg op klagtes van poging tot verkragting en seksuele aanranding en pleit onskuldig.

Die kind het deur middel van ’n tussenganger getuig hoedat die beskuldigde, wat sy “Seuntjie” noem, haar die betrokke dag gevra het om saam met hom na sy ma se huis toe te stap.

Daar was niemand tuis nie en die beskuldigde het die deur gesluit.

Hy het daarna van haar klere en sy klere uitgetrek.

Sy het getuig sy ma het terwyl hy bo-op haar gelê het, aan die deur ge­klop. Hy het hom aangetrek en die deur oopgemaak.

Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla en is vir verdere verhoor uitgestel tot 27 Julie. Goliath bly in aanhouding. (Deur Garnett Wicomb)