Stars deur na eindstryd

Deur Ben du Preez
DIE Union Stars Krieketklub het Saterdag met ’n oorwinning oor Sussex op die Oudtshoorn Sportgronde (Rec) sy plek in die eindstryd van die SWD Premierliga bespreek.
Die eindstryd vind op Saterdag, 18 Maart, op die Rec plaas.

Teen Sussex het Union Stars eerste gekolf en 129 lopies op die telbord geplaas in 40,2boulbeurte. Leroy Bredenkamp (39), Marcello Piedt (26) en Warren Olivier (25) was die beste kolwers.

Sussex is daarna in 17,1 boulbeurte vir ’n skamele 56 lopies deur Union Stars uitgeboender. Hershell America se boulwerk was verwoestend. Hy het ses paaltjies vir slegs 8 lopies platgetrek.
Hy is goed deur Marcello Piedt (3/30) bygestaan.

• Pirates en Western Hope het onderskeidelik tweede en derde in die liga geëindig en speel Saterdag op Loeriepark op Knysna om te bepaal wie gaan in die eindstryd teen Union Stars te staan kom.
• Union Stars B speel Saterdag op die Rec in die eindstryd van die Reserweliga teen Ramblers B.
• In die eindstryd van die Vroueliga speel Union Stars Sondag op die Rec teen Western Hope.

Ander uitslae van die naweek is:
Saterdag 18 Februarie:

• Pirates United klop Harlequins Forces Saterdag met 34 lopies. Pirates teken 87 lopies aan waarna hulle vir Harlequins vir 53 uithaal.

Sondag 19 Februarie:
Pacaltsdorp klop Sondag vir Harlequins met 19 lopies.
Pacaltsdorp behaal 142 lopies en haal daarna vir Harlequins uit vir 123 lopies.