Sportlui vereer vir 2019 se prestasies

Louis Visser (Senior Sportman), Colan Sylvester Micaela Andrews (Senior Sportvrou). Foto: Stefan Skapie Goosen

Querin Veldman (links) wat verlede Donderdagaand tydens die Groter Oudtshoorn Sporttoekennings vir 2019 as Junior Sportman van die Jaar aangewys is, en Charlissa Schultz (regs) wat as Junior Sportvrou van die Jaar aangewys is. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

Van links: Charlize Murphy (Hoërskolesportvrou), Bradley Manewil (Sportpersoon met Gestremdheid) en John-Wayne Petersen (Laerskolesportman).

DIE fietsryer Louis Visser is verlede Donderdag-aand by die Groter Oudtshoorn se Sporttoekennings vir 2019 as Oudtshoorn se Senior Sportman van die Jaar aangewys en die krieketspeler Micaela Andrews as die Senior Sportvrou van die Jaar .

Die toekennings aan individue, sportspanne en afrigters is gedoen in die Oudtshoorn Banketsaal tydens die jaarlikse Groter Oudtshoorn Burgermeesterssporttoekenningsonthaal.

Visser is die SA o.23 Padfietsrykampioen en is ook die Wes-Kaapse padfietsrykampioen.

Andrews, ’n lid van Union Stars en SWD se vrouekrieketspanne, is opgeneem in Krieket Suid-Afrika se nasionale akademie. Die veelsydige Andrews is ook ’n SWD-rugbyspeler.

Die toekennings word gedoen op grond van sportprestasies wat in 2019 behaal is.

Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, het in sy boodskap aan die sportlui gesê dit is nie net talent wat nodig is om uit te blink in sport nie, maar ook volgehoue harde werk en oefening deur die jaar.

André Alexander, wat in atletiek, bofbal en sokker presteer het, was die gasspreker. Hy het ook beklemtoon dat toewyding en goeie voorbereiding noodsaaklik is om in sport uit te blink.

Die ander sportlui wat vereer is, is:
• Querin Veldman: Junior Sportman vir sy prestasies op internasionale vlak in karate;

• Charlissa Schultz: Junior Sportvrou vir haar prestasie op internationale vlak in fietsry;

• Bradley Manewil: Sportpersoon met gestremdheid vir sy prestasies op nasionale vlak in krieket;

• Jada Coetzee: Laerskolesportvrou vir haar prestasies as Suid-Afrika se top-trompoppieleier;

• John-Wayne Petersen: Laerskolesportman vir sy prestasies op nasionale vlak in skaak;

• Die Laerskool Van Reede se trompoppies is as die Laerskolesportspan aangewys op grond van hul prestasies op nasionale vlak;

• Ronald Presher: Laerskole-afrigter wat die Laerskool Van Reede se trompoppies afrig. Hy is ook die Skolesportadministrateur van die Jaar;

• Charlize Murphy: Hoërskolesportvrou vir haar prestasies in baanfietsry op nasionale en internasionale vlak;

• Tyrese Karelse: Hoërskolesportman vir sy prestasies op internasionale vlak in krieket;

• Megan Presher: Hoërskole-afrigter. Sy rig die Struisies Drummies af wat by die SA’s presteer het;

• Bridgton Fietsryspan: Hoerskole-sportspan wat op nasionale vlak in padfietsry presteer het;

• Eurythmic School of Dancing (Kelly Brink-huys en Chloe Britz): Junior Sportspan vir die span se prestasies op nasionale vlak;

• Ranger Grebe: Senior Afrigter. Hy het skopboksers afgerig wat nasionale kleure verwerf het;

• Corné Bence: Senior Sportadministrateur. Bence is sameroeper van die SA pad- en baan­fietsrykeurders, bestuurder van die SA fietsryspan en president van Wes-Kaap Fietsry.

• Union Stars-vrouekrieketspan: Senior Sport-span deurdat hulle SWD Vroueliga gewen het. (Deur Stefan Skapie Goosen)