Sokkerwedstryde hervat na lang breek

Foto: Yardlynne Pypers

GRANWILLE GOLIATH
Na ’n lang onderbreking het die sokkerwedstryde die afgelope Saterdag weer met groot opgewondenheid hervat op die sportveld van die Infanterieskool. Die toernooi is tans in sy tweede week en lok elke naweek ’n groot aantal spelers en ondersteuners na die veld.

Altesaam 16 spanne neem aan die kompetisie deel, wat belowe om ’n hoogs mededingende toernooi te wees. Spanne van verskillende eenhede en gemeenskappe ding mee om die top-posisie op die punteleer, en die gehalte van sokker verbeter met elke wedstryd.

Die atmosfeer op die veld was lewendig, met ondersteuners wat hul spanne luidkeels aangemoedig het.
Fast Eleven het tot dusver uitstekende vorm getoon en beklee tans die eerste plek op die punteleer met ’n indrukwekkende 15 punte.

Hul konsekwente spel en sterk spanwerk maak hulle een van die gunstelinge om die toernooi te wen. Aan die ander kant van die punteleer bevind die Simunye-span hulle tans onderaan met geen punte.
Die span sal egter poog om in die komende wedstryde hul geluk te draai en waardevolle punte in te samel.

Die Infanterie-sokkerspan het die afgelope naweek ook aan die wedstryde deelgeneem en ’n redelike vertoning gelewer.

Hulle het een wedstryd gewen en een gelykop gespeel, wat vir hulle belangrike punte in die toernooi besorg het.

Die span se dissipline en vasberadenheid op die veld is deur toeskouers geloof.
Met nog verskeie wedstryde wat voorlê, word daar uitgesien na verdere opwindende sokkeraksie. Die toernooi dien nie net as sportiewe kompetisie nie, maar ook as ’n geleentheid vir spanbou, fiks-heid en gemeenskapsamehorigheid.