Lindi Brill, ’n oud-personeellid van Die Hoorn, maak tans groot opslae in die rolbalwêreld in Ermelo.
Sy het aan die einde van Desember 2024 in Ermelo aangekom. Haar man, Francois, was teen daardie tyd reeds ’n lid van die Ermelo Rolbalklub nadat hy ’n jaar daar gewoon het.
Ná ’n paar sosiale wedstryde saam met die klub, het die president van die Ermelo Rolbalklub, Gerda Swanepoel, haar aangemoedig om aan die Ontwikkelingsproewe deel te neem.
Lindi is toe gekies vir die Mpumalanga-Wes Ontwikkelingspan vir 2025. Kort daarna het sy aan die Mpumalanga-Wes Novice Singles deelgeneem en ’n indrukwekkende vierde plek in Mpumalanga behaal.
Tydens die 2025-klubkampioenskappe het sy uiters goed presteer deur die Dames Singles sowel as die Gemengde Pare te wen. Sy is ook met die gesogte Victrix Ludorum-toekenning bekroon.
In 2026 het Lindi reeds weer deurgedring na die tweede rondte van die Mpumalanga-Wes
Ontwikkelingsproewe, met die volgende rondte wat op 1 Maart in Middelburg plaasvind.
Die afgelope naweek het sy en haar gemengde pare-spanmaat ook die groepsfase van die Mpumalanga-Wes Gemengde Pare in Witbank gewen.
Volgens Lindi is sport een van die beste maniere om by ’n nuwe gemeenskap in te skakel. Die Ermelo Rolbalklub se lede het vinnig goeie vriende geword, en sy beskryf die klub as warm en verwelkomend. (GRANWILLE GOLIATH)
Voormalige joernalis van Die Hoorn presteer uitmuntend in rolbal
Lindi Brill (links), oud-joernalis van Die Hoorn maak naam in rolbal-kringe. Foto verskaf.