Klein voetjies, groot stap vir Oudtshoorn se graad 1’s

Bo: Laerskool Wesbank. Middel: Laerskool Laurus. Onder: Sacred Heart (RK) Primêr.

Die week het daar groot opwinding in Oudtshoorn geheers toe talle graad 1’tjies hul eerste dag van die amptelike skoolloopbaan aangepak het.

Die onderwysers het elke kleintjie warm verwelkom en gehelp om die dag spesiaal te maak, terwyl ouers en familie saam die opgewondenheid gedeel en die eerste groot stap gevier het.

Vir hierdie jong leerders is dit ’n groot mylpaal – dit is die begin van hul formele opvoedkundige reis. Die klaskamers word ’n ruimte van ontdekking, waar hulle die basiese beginsels van lees, skryf en somme leer.
Al in die eerste uur het nuwe vriendskappe begin blom, en die lag van die kleintjies het die klaskamers gevul.

Sommige kinders het reeds hard aan die werk gegaan, terwyl ander lekker op die mat gekuier het terwyl die juffrou ’n opwindende storie vertel of op ’n skerm wys.

Daar was selfs graad 1’tjies wat gesê het hulle kan nie wag om te leer nie, en talle wat nie kon wag om te vertel hoe baie hulle van hul vriendelike juffrou hou nie.

Die dag het nie net glimlaggies gebring nie, maar ook trane. Van ouers wat trots en emosioneel was, en van kinders wat die eerste groot stap in hul skoollewe gedoen het.

Sterkte aan elke graad 1-leerder, hul ouers, en aan die volgende 12 jaar wat voorlê.
Ons dink ook aan die onderwysers, wat voor ’n jaar vol nuwe uitdagings staan. (MALISSA SPIES)

De Villiers Primêr

Bergsig Primêr

Laerskool Van Reede