Klein Karoo se 2025-matrieks maak trots

Bo: Langenhoven Gimnasium Middel: Hoërskool Oudtshoorn Onder: Bridgton Senior Sekondêr.

Meer as 900 000 matrieks het die 2025-matriekeindeksamen geskryf. Die nasionale slaagsyfer was 88%, wat volgens die Departement van Onderwys die hoogste tot dusver in die geskiedenis is.

Provinsies het die volgende resultate behaal: KwaZulu-Natal het die hoogste slaagsyfer met 90,6%, gevolg deur die Vrystaat met 89,3%, Gauteng met 89,1%, Noord-Wes 88,5%, Wes-Kaap 88,2%, Noord-Kaap 87,8%, Mpumalanga 86,5%, Limpopo 86,1% en die Oos-Kaap 84,2%.

In die Wes-Kaap het 24 skole ’n 100% slaagpersentasie behaal. Eden en Sentraal-Karoo, waaronder die Klein Karoo val, het ’n algehele slaagpersentasie van 89,1%, met 10 skole wat die 100% merk bereik het.
Hier volg die Klein Karoo se resultate:
– Langenhoven Gimnasium – 100%
– Shalom Akademie – 100%
– Ladismith Hoërskool – 94,9%
– Bridgton Sekondêre Skool – 93,8%
– Hoërskool Protea – 93,8%
– Hoërskool Calitzdorp – 92,6%
– Hoërskool Oudtshoorn – 92%
– Ladismith Sekondêr – 91,1%
– Dysselsdorp Sekondêr – 85,7%
– Hoërskool Môrester – 84,8%
– De Rust Sekondêr – 79,2%
– Aurial Kollege – 78,5%
– Fezekile Sekondêr – 71,9%

Langenhoven Gimnasium vier uitstekende prestasie van 2025-matriekklas
Langenhoven Gimnasium het ’n 100%-slaagsyfer behaal, met al 134 matrikulante wat geslaag het. Van die groep het 122 leerders (91,04%) universiteitstoelating verwerf, terwyl 12 leerders vir diploma-studies gekwalifiseer het.

Die graadgemiddeld vir die groep was 63,7%, met prestasies in verskeie vakke. In totaal is 183 vak A-simbole behaal en 12 leerders wat A-gemiddeldes behaal het.

Die top-presteerder was Theunis Venter met ’n gemiddeld van 92,14%, gevolg deur Nika Potgieter (91%) en Annamé du Plessis (89,71%). Altesaam 27 leerders het ’n gemiddeld van meer as 75% behaal.

Die skool het sy onderwysers, ouers en leerders bedank vir hul bydrae tot die uitstekende uitslae.
Hoërskool Oudtshoorn maak top-presteerders vir 2025 bekend.

Hoërskool Oudtshoorn het die top-presteerders in die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen bekend gemaak en die matriekklas gelukgewens met hul prestasies.

Die dux-leerder vir 2025 is Ashley Jullies, wat drie A-vakgemiddeldes behaal het. Sy word gevolg deur Sue-Anne Janse van Rensburg en Jordan Louw, wat elk vier A-vakgemiddeldes behaal het.

Die skool het aangedui dat 92% van die klas hul skoolloopbaan suksesvol voltooi het. Volgens die skool weerspieël die uitslae die leerders se deursettingsvermoë en harde werk oor hulle akademiese reis van 12 jaar.

Hoërskool Oudtshoorn het sy waardering uitgespreek teenoor onderwysers, ouers en alle rolspelers wat tot die leerders se ontwikkeling en sukses bygedra het, en het die matrikulante sterkte toegewens met hul verdere studies en toekomsplanne.

Hoërskool Môrester trots op 2025 NSS-uitslae
Hoërskool Môrester het sy 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae bekend gemaak en ’n slaagsyfer van 84,8% behaal, wat ’n verbetering op die 2024-uitslae verteenwoordig. Die gehalte van slaag het ook beduidend verbeter.

’n Besonderse hoogtepunt was dat die volgende vakke ’n 100%-slaagsyfer behaal het: Engels Eerste Addisionele Taal, Lewensoriëntering, Elektriese Tegnologie, Siviele Tegnologie en Verbruikerstudies.
Die skool het die matriekklas van 2025, asook die opvoeders en ouers, bedank vir hul harde werk en toewyding wat tot die sukses bygedra het.

Hoërskool Protea vier 2025-matriekuitslae
Hoërskool Protea het die 2025-matriekuitslae bekend gemaak en die klas gelukgewens met hul prestasies. Die skool het ’n hoë slaagsyfer behaal, met verskeie leerders wat akademies uitgeblink het.

Die top-presteerder vir 2025 is Maria Oktober, wat ’n gemiddeld van 82,71% behaal het. Sy word gevolg deur Andrea Serfontein met ’n gemiddeld van 81,56%. Beide leerders is geloof vir hul toewyding en harde werk, en dien as rolmodelle vir ander leerders.

Volgens die skoolhoof weerspieël die uitslae die deursettingsvermoë van die matriekklas, asook die ondersteuning van opvoeders en ouers. Die skool het sy waardering uitgespreek teenoor alle rolspelers wat tot die sukses van die 2025-groep bygedra het.

Die matrikulante is sterkte toegewens met hul verdere studies en toetrede tot die werkswêreld.
Nota: Hoofde van skole in die Klein Karoo is vir kommentaar gekontak, maar het teen druktyd nog nie gereageer nie.