Sokkertoernooi die voorloper vir liga

Foto's: Stefan Skapie Goosen

Bo (foto verskaf) is die wenners van die sokkertoernooi, die Phantom Wolves van Bridgton, en bo is aksie uit een van die vele wedstryde. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE Eden Sokkerakademie (Eden Football Academy, of EFA) se eerste o.13 Grassroots Mini Sokkertoernooi, wat Saterdag (9 April) op die Oudtshoorn Infanterieskool se sportveld afgespeel het, was volgens organiseerders ’n groot sukses, en die voorloper vir ’n liga wat op 23 April vanjaar sal afskop.

Agt spanne, saamgestel uit jong spelers van regoor die Groter Oudtshoorn, het aan die toernooi deelgeneem op ’n dag van aksiebelaaide sokker.

Alpha FC (Infanterieskool-kinders), Alpha Lighting (As Kamp en Smartie Town), Bongolethu Primêre Skool, Oudtshoorn Tigers FC, Oukas Panthers FC (Oukas Town), Phantom Wolves (Bridgton), Principia Onafhanklike Skool en Rising Stars (Bridgton en De Villiers primêre skole) het mekaar in rondomtalie-wedstryde aangepak.

Rising Stars, Aqua Lighting, Phantom Wolves en Alpha FC het na ’n reeks wedstryde deurgedring na die wennersafdeling om te bepaal wie die top-span van die dag was, terwyl Bongolethu PS, Oudtshoorn Tigers, Oukas and Principia om die “plate”-afdeling meegeding het.

Die finale wedstryd is tussen die Phantom Wolves en Aqua Lighting gespeel, met die Wolves wat honger genoeg was om te seevier.

Bongolethu PS het bewys dat hulle te sterk vir die Oukas Panthers was, en die “plate”-afdeling ingepalm.
Volgens Andre Alexander, lid van die EFA en afrigter vir baie van die kinders, was die dag se sukses te danke aan al die rolspelers wat saamgewerk het om vir die kinders die beste toernooi moontlik te kon aanbied. “Jul harde werk en bydrae gaan nie ongesiens verby nie.”

Volgens Desiree Mawela, lid van die Infanterieskool en bestuurslid van die EFA, was dit ’n onvergeetlike toernooi.

“Die toernooi was one of a kind en baie meer as net ’n gewone sokkertoernooi. Ons kon uitreik en kinders van allerhande verskillende agtergronde saambring sodat hulle deur die EFA vriende kon maak.

“Dit help ook om van dié kinders van die strate af te hou, en gee vir hulle iets om na uit te sien. Dit gee al die kinders ook die kans om respek teenoor mekaar aan te leer terwyl hulle pret kan hê!” het Mawela gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)