Bespaar só met sonkrag en pypkan beurtkrag!

Al die rolspelers betrokke tydens die onthulling van die projek by Oudtshoorn Spar - dit sluit verteenwoordigers van Blockpower, SonBroers, Solarise Africa en Oudtshoorn Spar in. Foto: Stefan Skapie Goosen

Die sonpanele uit die lug gesien (Foto verskaf.)

’N OPWINDENDE nuwe projek – ’n eerste van sy soort op Oudtshoorn – is Donderdag by Oudtshoorn Spar onthul.

Die sonkrag-projek het die oog daarop om nie nét groot besparings op elektrisiteitskostes vir sake-ondernemings mee te bring nie, maar ook om ’n stokkie voor daardie frustrerende beurtkrag-gogga se streke te steek.

Die maatskappy wat aan die hoof staan van die projek, Blockpower, noem dit ’n sonkrag-samewerkingsprojek in die Karoo – met ’n doelgerigte ontwerp. Tesame met hul vennote in die projek, SonBroers en Solarise Africa, het hulle die implementering van ’n 100 kW/174 kWh Power Block voltooi.

Volgens Kyle Bohnsack, besturende direkteur van Blockpower, is die installasie ’n samestelling van sonpanele soweel as batterye wat dit vir die onderneming moontlik sal maak om hul algehele afhanklikheid van die Eskom-kragnetwerk met 60% te beperk.

“Die sonpanele is baie dieselfde as wat mens by jou huis kan installeer, en die batterye is dieselfde as die batterye wat deesdae in elektriese voertuie gebruik word, maar in hierdie geval is dit op ’n groter skaal; en baie meer gesofistikeerd,” het Bohnsack gesê.

“Waarop dit neerkom, is dat ons ’n nywerheidsoplossing, soos wat byvoorbeeld deur die myn- en spoorlynbedryf gebruik word, gevat en afgeskaal het tot op kommersiële vlak. Ons gebruik die nuut­ste tegnologie in die wêreld, en dit maak dit moontlik vir ons om finansiers betrokke te kry by sulke projekte, en dat hulle met vertroue in die projek kan belê.”

Volgens Bohnsack maak hierdie model dit meer vatbaar vir besigheidseienaars om so ’n stelsel by hul ondernemings te installeer. “Nou kan medium-grootte ondernemings, met geen kapitaal, betroubare energie opwek, en meer geld spaar as wat dit hulle kos om die sisteem aan te koop of om die finansiers terug te betaal. Binne die volgende vyf jaar, wanneer die sisteem afbetaal is, beteken dit die krag wat hulle opwek is heeltemal verniet.”

Die sonpanele, tesame met die batterye en omskakelaar, of “inverter” in Engels, is wat hierdie stelsel beter maak as gewone stelsels en wat besparinge gaan meebring, voeg Bohnsack by.

Hy sê die sonpanele op sigself wek net ’n bepaalde hoeveelheid krag, maar die batterye is die “geheime bestanddeel” in die stelsel wat kan beteken dat ondernemings tot en met 90% kostes sal kan bespaar.

“Geen meer kragopwekkers met beurtkrag nie, en al die ekstra kostes wat jy deesdae op jou rekening sien, gaan uiteindelik verdwyn omdat jy jou eie krag opwek,” sê hy.

Bohnsack sê wanneer die gewone krag vir enige rede afgaan, skakel hul stelsel outomaties sonder ’n kragonderbreking oor na die son- of gebergde krag. “Dit beteken geen lig verloor vir ’n oomblik krag nie, geen yskas skakel af en aan nie, en boonop beteken dit dat jy enige soort kragopwek-king met die stelsel kan integreer.”

Vir die meer tegniese leser, is hier so paar “hoogtepunte” van die Blockpower Power Block-sisteem: 123 kW van JA Solar 540 W sonpanele, gekoppel aan ’n 100 kW Huawei PV-omskakelaar wat die DC-krag van die sonpanele omskakel na AC-krag; 174 kWh SYL lithium-ion batterye; 100 kW MR GRIDCON PCS, wat die battery-krag omskakel na AC-krag; en ’n UPP (Universal Power Platform) wat die energiebestuurstelsel voltooi. (Deur Stefan Skapie Goosen)