Klein kewertjie saai verwoesting onder bome

Die skadelike Polifaag-skietgatboorder-kewer en die gate wat dit op ’n boom se bas laat.

’N LASTIGE houtkewertjie vanuit Suid-Oos Asië is besig om verwoesting te saai onder die inheemse bome van Suid-Afrika, en dit is hoogtyd dat ieder en elk daarvan te wete kom.

Die Polifaag-skietgatboorder-kewer (Stompkop) of Polyphagous Shot Hole Borer Beetle (PSHB) in Engels, is vir die eerste keer in Suid-Afrika in 2017 in Kwazulu-Natal deur ’n wetensklaplike, dr Trudy Paap, geïdentifiseer. Daar word vermoed dat die kewer deur middel van houtpalette op vragskepe die land binnegekom het. Dié indringer het sedertdien na Gauteng, die Tuinroete en die Kaapse Skiereiland versprei en hou tans ’n ernstige bedreiging vir die Suid-Afrikaanse natuurlewe in.

Wat doen dié kewertjie?
Die PSHB-kewer, ook bekend as Euwallacea fornicates, boor deur die bas van bome tot in die sagte saphout-gedeelte en veroorsaak dat dié bome binne enkele jare kan sterf.

Die vroulike kewer, wat kan voortplant sonder om met ’n mannetjie te paar, dra ’n fungus genaamd Fusariium euwallacea wat as voedsel vir haar nageslag dien.

Ná besmetting tonnel die vroulike kewer haarself diep deur die boom se natuurlike voedingskanale waar sy dié Fussarium fungus agterlaat, en dit is juis hierdie fungus wat uiteindelik die dood van die boom veroorsaak.

Hoekom moet ons bekommerd wees?
’n Besmette boom kan tot 100000 kewers huisves wat vir ’n volle 12 maande ná die boom se dood steeds maklik in die boom kan woon. Vroulike kewers kan ook tot ’n kilometer ver vlieg, wat die bedreiging en verspreiding van die plaag aansienlik verhoog.

Na aanleiding van die aantal bome wat dié kewer reeds in Gauteng, die Tuinroete en die Wes-Kaap doodgemaak het, kan dit moontlik een van Suid-Afrika se grootste ekologiese plae nóg wees.

Die verspreiding van die kewer is tot dusver grootendeels deur mense moontlik gemaak. Dit is dus hoogtyd dat ons almal daarvan bewus moet raak.

Hoe om dié laspos te identifiseer
Dit is ongelukkig moeilik om hierdie astrante indringer te identifiseer. Hulle is slegs 2 mm lank – so groot soos ’n enkele sesamsaad. Wat dit egter makliker maak, is om die simptome van besmette bome raak te sien. Die kewer dring die boom deur die bas binne en laat ’n koelronde gaatjie agter – vanwaar die naam Shot Hole Borer. Hierdie gaatjies is gewoonlik omring met ’n bietjie boomgom of ’n klein hopie houtstof.

Kyk dus uit vir ­hierdie gaatjies, dooie takke en die klein vlekkies waar die boomgom uit vloei.

Wat kan ons doen?
CapeNature, wat die hoofbewaarder van die Wes-Kaapse natuurlike omgewing is, het onlangs wetgewing aangevra en suksesvol ingestel wat besoekers verbied om enige braaihout in hul parke in te neem. Aangesien die vervoer van braaihout tans die grootste verspreidingsmetode van hierdie kewer is, is dit sinvol. As jy braaihout koop, kyk uit vir die tekens van hierdie kewertjie. En as jou braaihout wel kewers bevat, brand dit so gou as moontlik en voorkom die verspreiding van hierdie ongesiene indringer.

Ons inheemse diere en voëls is almal afhanklik van ons bome. Doen dus moeite om te onthou van hierdie kewertjie wat tans ons plaaslike natuurskoon bedreig.

’n Bevestigde besmetting van die PSHB-kewer moet dadelik aangemeld word by die webtuiste van Cape Town Invasives: www.capetowninvasives.org.za/shot-hole-borer

Vir meer inligting oor die PSHB-kewer, gaan kyk gerus na die volggende webtuiste:
polyphagous-shot-hole-borer.co.za (Deur Robert Koen)