Jong man kry 23 jaar vir diefstal, aanranding en twee huisbrake

’N JONG man van Volmoed wat op twee klagtes van ernstige aanranding, twee van huisbraak en een van diefstal skuldig bevind is, is Vrydag (8 April) in die Oudtshoorn Streekhof tot 23 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Die klagtes is die volgende:

Martin Bruintjies (21) het op 2 Januarie 2020 Baro-Lee John (15) met ’n gebreekte bottelkop gesteek omdat sy glo stories oor hom versprei het.

Op 16 Junie 2020 het hy sy swaer, Johan Witbooi, met ’n byl gekap omdat hy kwaad was vir hom.
Die derde klagte is dat Bruintjies op 29 April 2020 by die Volmoed Kleuterskool ingebreek en ’n 9 kg-gasbottel, kruideniersware ter waarde van R600, ’n hamer en tange gesteel het.

Die vierde klagte volg op ’n diefstal wat Bruintjies op 1 Augustus 2020 gepleeg het, toe hy ’n hek van Hendrik Schoeman ter waarde van R380 ge­steel het.

Die vyfde klagte volg nadat Bruintjies tussen 24 en 26 Desember 2020 by die Volmoed Primêre Skool ingebreek het waar hy ’n graaf, tuinvurk en draadtang gesteel het.

Bruintjies het aanvanklik onskuldig gepleit, maar later sy pleit na skuldig verander.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof daarop gewys dat Bruintjies by ’n kleuterskool en primêre skool ingebreek en hulle besteel het terwyl plattelandse skole dit nie breed het nie. Die inbrake was voorts beplan en gedurende skoolvakansies gepleeg.

Goulding het ook betoog dat Bruintjies geen berou getoon het nie en dat die enigste gepaste vonnis lang tronkstraf sal wees.

Bruintjies se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof versoek om sy jeugdigheid vir vonnis in ag te neem.

Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê dat Bruintjies ten tye van die voorvalle werk gehad het en dat dit nie nodig vir hom was om in te breek en te steel nie. Hy was ook nie eerlik met die hof nie.

Voorts was sy optrede tydens die aanrandings skrikwekkend en is hy ’n gevaar vir ander lede van ’n ge­meenskap.

Die landdros het gesê Bruintjies was bewus van die 15-jarige meisie se ouderdom en het ook sy swaer wat so baie vir hom doen, onnodiglik aangerand.

“Die gemeenskap moet teen mense soos die beskuldigde beskerm word,” het die landdros gesê.
Bruintjies is onderskeidelik tien en ses jaar tronkstraf opgelê vir aanranding met die opset om ernstig te beseer, vyf jaar vir huisbraak en twee jaar vir diefstal.

Die hof het gelas dat van die vonnisse samelopend uitgedien kan word vir effektiewe gevangenisstraf van 15 jaar.

Die beskuldigde is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)