Skole van wyd en syd dis spogrugby op by Zibi 7’s!

Aksie uit die Zibi Sewestoernooi op die Bridgton Sportgronde. Foto’s: Ebenezer Titus

Deur Higgo Jacobs
SEWESRUGBY van ’n hoë gehalte is opgedis by vanjaar se Zibi Sewesrugbytoernooi op die Bridgton Sportgronde wat weer ’n groot sukses was.

Volgens Deon Carelse, hooforganiseerder van dié jaarlikse toernooi, raak dit egter al moeiliker om die toernooi aan te bied aangesien slegs ’n paar plaaslike besighede dit finansieel ondersteun.

Altesame 48 skole het vanaf Donderdag tot Saterdag, 15 tot 17 Augustus, aan die toernooi deelgeneem en altesame 112 wedstryde is gespeel.

Skole van so ver af as Villiersdorp, Bredasdorp, Swellendam, George, Knysna, Mosselbaai, Barrydale, Robertson, Bonnievale, Heidelberg en Riversdal het opgedaag om opwindende sewesrugby te speel.

Die toernooi dien ook as ’n fondsinsamelings-projek vir Bridgton Senior Sekondêre Skool (BSS).

“Die doelwit van die Zibi Sewes is om skole in die SWD en Boland meer blootstelling aan die sewes- rugbykode te gee. Dit is ook ’n toernooi wat aan die spanne die geleentheid bied om aan ’n groot georganiseerde toernooi deel te neem sonder groot finansiële uitgawes,” het Carelse vandeesweek aan Die Hoorn gesê.

Albert Myburgh Sekondêre Skool (Bredasdorp) het die o.19-afdeling gewen toe hulle BSS, die gas-heerskool, in die eindstryd met 19-12 geklop het.

Ander plaaslike spanne wat goed gevaar het, is die Struisies se o.16-span (bekerwenners), Oudts-hoorn Vaardigheidskool se o.16-span (trofeewenners) en Aurial Kollege o.19-span (bronsmedalje).

BSS beoog om die plaaslike rugbyklubs volgende jaar by die toernooi te betrek en samesprekings hieroor met klubs en die SWD Rugbyunie vind volgens Carelse eersdaags plaas.