Perde-uithourit dié naweek by Kansakrale

HW de Waal op Margran, wyle Nico de Bois se geliefde Arabierperd en Keith Achan op die merrie Delmar Sahibi wat vroeër vanjaar ’n uithourit by Elim gewen het. HW is die jongste deelnemer aan die Erasa De Zeekoe Perde- uithourit wat die naweek by die Kansa Krale buite Oudtshoorn plaasvind. (Foto: Facebook)

Lindi Brill, Lizél de Waal en Lizelette le Roux in aksie op hul perde. (Foto verskaf.)

Deur Angelique Erasmus
DIE Erasa De Zeekoe Perdeuithourit vind hierdie naweek vir die sewende keer in die omgewing van die Kansakrale buite Oudtshoorn plaas.

Belangstellendes en perdeliefhebbers kan Vry-dag vanaf 14:00 of Saterdagoggend vanaf 09:00 gerus ’n draai by die begin- en eindpunt, by die Kansakrale maak.

Ruiters van regoor Suid-Afrika kom jaarliks na Oudtshoorn om deel te neem aan hierdie uithourit, wat deur wyle Nico de Bois begin is.

Verlede jaar het sowat sewentig ruiters aan die rit deelgeneem.

Ruiters kan kies tussen drie verskillende afstan-de om in mee te ding, 40 km, 80 km en 120 km.
Die publiek word genooi om die dag saam met die ruiters te kom geniet.

Daar sal heerlike eetgoed, asook koeldranke en koffie te koop wees.