Collegians gee Harlequins pak

DIE A-span van Collegians het Saterdag sy SWD Presidentsligawedstryd (Karoostreek) teen Harlequins op die Bridgton Sportgronde met 24-5 ge-wen nadat hulle rustyd met 5-0 voorgeloop het.

Collegians het sy oorwinning te danke aan goeie samespel tussen voor- en agterspelers. Harlequins se spelers het daarteenoor te individualisties en sonder ritme gespeel.

Collegians het sy eerste punte kort voor rustyd aangeteken met ’n onverdoelde drie deur Curwin le Roux (slot) vanaf ’n losgemaal.

Hoewel Harlequins ná rustyd sterk aangeval het, het Collegians se verdediging gehou. Opportunistiese spel deur Jason Plaatjies, linkervleuel van Collegians, het gelei tot die span se tweede drie. Plaatjies het self verdoel.

Kort hierna het Harlequins sy enigste punte van die wedstryd behaal toe die span se een senter ’n gaping gevat en ’n onverdoelde drie gedruk het om die telling op 12-5 te staan te bring.

Collegians het sy voorsprong vergroot met ’n onverdoelde drie deur sy losskakel Cristefer Snyman nadat hy pragtig gebreek het.

Ná volgehoue druk deur Collegians in die laaste gedeelte van die wedstyd het die plaasvervangerskrumskakel Guwani Williams ’n swak aangee van Harlequins in die hande gekry en onder die pale gaan druk. Warren Olifant, haker, het verdoel vir die eindtelling van 24-5.

Collegians se afrigter, Seppie Ekstraal, was ná die wedstyryd vol lof vir sy span se spel. “Daar was onnodige foute, maar ons sal dit regstel op die oefenveld,” het hy gesê.

• Collegians B het Harlequins B met 44-17 ge-klop nadat hulle rustyd 25-3 voor was.

Collegians speel Saterdag op die Oudtshoorn Sportgronde teen die Oudtshoorn Rugbyklub.