’N ELF-JARIGE leerder van Towerkop Primêr op Ladismith, Shonique Rothman, is besig om haar skool sommer baie trots te maak.
Shonique is gekies vir die Wes-Kaapse skole-atletiekspan wat gedurende die Maart-vakansie in Pietermaritzburg gaan meeding.
Sy is vir die Wes-Kaapse span gekies nadat sy die afgelope naweek as lid
van die Eden-atletiekspan die tweede plek in die 100meterwedloop vir meisies o.12 by die Wes-Kaapse Atletiekbyeenkoms in die Paarl behaal het.
Tydens die Eden Kluster-atletiekbyeenkoms op Oudtshoorn het Shonique eerste plekke in die 100m en 150m vir meisies o.12 behaal.
Sy word afgerig deur Hendrik Jansen van Korrektiewe Dienste.
Shonique, ’n kampioendanser in ballroom en Latin is, sê atletiek is haar eerste keuse. Haar ma, Davida, was immers self ’n kranige atleet op skool. Shonique glo dat sy haar ma se sportgene geërf.
• Die koste om aan die byeenkoms in Pietermaritzburg te gaan deelneem, is R4000 vir vervoerkoste en R1110 vir haar uitrusting en sakgeld.
Al is sy bekommerd of sy die geld betyds sal kan insamel aangesien haar ma ’n enkelouer is, is sy opsigtelik trots op haar prestasies en vertrou sy dat sy sal kan gaan deelneem.
By navraag het die skool aangedui dat hulle beslis ’n bydrae tot haar uitgawes sal maak. (Deur Deon Meyer)