DAAR was Dinsdag chaos binne en buite die Oudtshoorn Landdroshofgebou op Oudtshoorn met ’n skare mense wat mekaar verdruk en verskree het om toegang tot die hofsaal te verkry waar Magdaleen (Maggie) Titus (43) en Justice Mooi (33) lewenslange gevangenisstraf opgelê is vir hul aandeel in die moord op Magdaleen se man, Preston Titus.
Hulle is ook drie jaar gevangenisstraf opgelê vir dwarsboming van die gereg, en onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.
Die vonnisse sal gesamentlik uitgedien word.
Titus en Mooi het voor hulle uitgestaar en geen emosie getoon toe hul gevonnis is nie.
Titus en Mooi is in November 2019 aan moord en dwarsboming van die gereg skuldig bevind, terwyl hul twee mede-beskuldigdes, Natashia Stuurman en Masithembe January, vrygespreek is.
Regter Nolwazi Mabindla-Boqwana het bevind dat Titus die meesterbrein agter die beplanning van haar man se moord was en haar as ’n groot leuenaar beskryf. Sy het met vonnisoplegging gesê dat beide Titus en Mooi geen berou toon of verantwoordelikheid aanvaar vir hul optrede nie.
“Die samelewing verwag van die hof om ’n streng vonnis op te lê.”
Preston Titus is op 1 Desember 2017 wreed in die veiligheid van sy huis in die weermagkamp op Oudtshoorn met messe en ’n hamer vermoor terwyl sy jongste dogter in die kamer langsaan geslaap het.
Die regter het met vonnisoplegging gesê Preston se moord was genadeloos, roekeloos en wreed, en vooraf fyn beplan. Sy het gesê Mooi het ’n voorbeeldige lewe gelei en in die sorg van sy ouma grootgeword nadat beide sy ouers oorlede is. Hy het in die kerk grootgeword en later sy eie gestig. Hy het ook omgesien na die familie se besigheid. Hy was ’n intelligente jong man wat ’n belowende toekoms gehad het, “maar is deur ’n vrou verlei wat hom geld belowe het”.
Titus is deur haar twee dogters van 19 en 15 jaar as ’n goeie ma beskryf en het ook as ANC-raadslid goeie werk in die gemeenskap verrig. Sy het as iemand in ’n vertrouensposisie ’n jong man gebruik om haar man te laat vermoor.
Die regter het gesê mens sal nooit weet waarom Preston vermoor is nie, en het met die staatsaanklaer, adv Christhénus van der Vijver, saamgestem dat Titus en Mooi genoeg tyd gehad het om van die moordplan af te sien.
Herman Titus, oudste broer van die oorledene, het sy tevredenheid met die vonnis uitgespreek maar bygevoeg dat Titus nog elke dag deur haar familie in die tronk besoek sal kan word terwyl sy broer van sy lewe ontneem is.
“Dit voel soos ’n Cokebottel waarvan die prop nou af is,” het ’n ander broer, Howard, na die uitspraak gesê. (Deur Garnett Wicomb)
