DIE DA se interne tugverhoor van Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, is uiteindelik in sy laaste fase met Sylvester se regspan wat nog net hul geskrewe betoogshoofde moet voorlê.
Die sperdatum hiervoor is 11 Maart.
Volgens Alan McLoughlin, komitee-assistent van die DA betrokke by die tugverhoor, sal die paneel wat ’n beslissing in die tugverhoor moet maak, na ontvangs van die betoogshoofde ’n besluit neem.
Getuienis en kruisondervraging in die tugverhoor het van 20 tot 24 Januarie 2020 en daarna weer op 3 en 4 Februarie 2020 op die dorp plaasgevind.
Die verhoor sou aanvanklik verlede jaar plaasgevind het, maar is twee keer uitgestel nadat Sylvester na verneem word aanvanklik gevra het vir meer tyd om hom voor te berei en ’n meer gedetaileerde klagstaat, en die tweede keer na die dood van ’n nabye familielid van Sylvester. (Deur Liesel le Roux)