Student (18) en oom sterf op selfde dag in 2 botsings

Past Bennett Julius saam met sy kleindogter, Anique.
Foto Facebook

’N DUBBELE tragedie het ’n familie van Ladismith verlede Donderdag (27 Fe­bruarie) getref toe Marinique Hendricks (18) en haar oom, past Bennett Julius (50), op dieselfde dag in afsonderlike motorongelukke gesterf het.

Julius was volgens sy dogter, Beanga, tot op die einde ’n held. Sy tweejarige kleinkind, Anique, het op sy skoot gesit ten tye van die ongeluk waarin hy sy lewe verloor het en drie mense ernstig beseer is.

In ’n inskrywing op Facebook skryf Beanga: “Vandag het hy regtig gewys hy sal sy lewe gee vir sy familie. Hy het vandag my babadogtertjie se lewe gered in daardie ongeluk.”

Volgens kapt Ian Meyer, bevelvoerder van die Calitzdorp Polisie, het die onge­luk op die R62 tussen Oudtshoorn en Ca­litzdorp plaasgevind. Die bestuurder van ’n Land Rover Defender het na bewering beheer verloor oor die motor ná die lin­keragterwiel gebars het.

Daar was tien insittendes in die voertuig, insluitend Julius, sy vrou Anna en hul kleindogter.

Hulle het dié dag ’n saamrygeleentheid Oudtshoorn toe gekry by ’n afgetrede dokter. Hulle sou hul nuwe ID-kaarte gaan afhaal.

Volgens Anna, wat net ligte beserings in die ongeluk opgedoen het, het haar man “onselfsugtig sy liggaam gebruik om sy kleindogter te beskerm. Hy het hierin geslaag en sy het net ’n skrapie aan die linkerkant van haar koppie opgedoen.”

Julius is op die toneel dood terwyl die afgetrede dokter uit die wrak gesny moes word. Hy is met die AMS noodhelikopter na ’n hospitaal in Oudtshoorn geneem en daarna na ’n hospitaal in George oorgeplaas. Die res van die insittendes het net ligte beserings opgedoen.

Volgens Anna sou haar man, wat ook ’n bouer is, hierdie naweek hul patiodeur op die stoep insit. Sy vertel dat klein Anique nog nie een keer na oupa, vir wie sy ontsettend lief was, gevra het nie.

In die ongeluk wat Marinique se lewe geëis het, het die bestuurder van ’n Ford Bantam-bakkie glo beheer verloor nadat hy vir ’n koedoe moes uitswaai.

Hulle was onderweg van Riversdal na Ladismith op die R327. Marinique, ’n student aan Suid-Kaap Kollege, het glo agter op die bakkie gesit. Sy het later aan haar beserings beswyk.

Volgens Marinique se ma, Fiela, was haar dogter besig met ’n oorbruggings­kursus by die Suid-Kaap Kollege. Sy wou onderwys gaan studeer. Sy het begin bekommerd raak oor haar ná sy haar herhaaldelik probeer bel het en haar dogter nie haar selfoon geantwoord het nie.

Sy het dadelik gedink aan die motorongeluk wat Julius se lewe geëis het.

Ná sy navraag gedoen het, moes sy verneem dat haar dogter in ’n motorongeluk was en weens die erns van haar beserings na die George Hospitaal vervoer is. Sy het by die hospitaal aan haar bese­rings beswyk.

Haar nek was glo gebreek.

Volgens Fiela het sy en haar dogter ’n baie hegte band gehad. In Marinique se netjiese pienk kamer in hul huis in Mos­siestraat vertel sy: “Sy was my maatjie, ons kon lekker gesels. Sy het belowe om my lewe makliker te maak wanneer sy sou begin skoolhou. Sy’t gesê ek hoef dan nie meer nagte by die vulstasie te werk nie.”

Op Facebook skryf ’n vriendin, Wendy Sampson: “Jy was nog so jonk. Ons laaste gesprek was toe ons ons toekomsplanne bespreek het. My hart is verpletter. Ek’s stukkend, jou merk is gelaat in my lewe.”

Kapt Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie sê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek “Na bewe­ring het die bestuurder vir ’n koedoe uit­geswaai en beheer oor die voertuig verloor. Die bakkie het omgeslaan. ’n Na­doodse ondersoek is Vrydag gehou om die oorsaak van Marinique se dood vas te stel.”

• Die roudiens van Marinique vind vanaand (Donderdag) om 19:00 uur by haar ouerhuis in Mossiestraat plaas. Julius se roudiens word Vrydagaand in Kannemeyerstraat gehou. Die gesamentlike begrafnisdiens is Saterdag. Die tyd en plek sal nog bevestig word. (Deur Deon Meyer)