Munisipaliteit dien klagtes teen besetters in

VERSKEIE klagtes van betreding is Maandag deur die Oudtshoorn Munisipaliteit by die Oudtshoorn Polisie ingedien teen mense wat op oop stuk­ke grond in gebiede soos Bridgton, Bongolethu en Toekomsrus begin het om pale te plant en informele strukture op te rig.

“Ons het reeds begin om die eienaars van die grond te identifiseer, wat ons sal help om die kwessie aan te spreek,” het Ntobeko Mangqwengqwe, senior kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn Munisipaliteit, gister gesê.

Volgens Christo van der Bergh, ’n prokureur van die regsfirma Coetzee en Van der Bergh, is daar ’n algemene wanpersepsie dat mense nie verwyder kan word as hulle ’n stuk grond vir langer as 48 uur beset nie. “Dit is onwaar en daar is volgens die wet geen tydgrens nie.”

Daar moet wel onderskei word tussen besetting, waar ’n struktuur opgerig word en mense op die perseel bly, en betreding, waar ongemagtigde persone die grond betree, maar nie daar bly nie.

Dit geld ook wanneer persone enige ver­andering aan die eiendom aanbring (soos die plant van houtpale) om later ’n informele huis daar te bou.

Persone wie se eiendom betree word, kan by hul plaaslike polisiekantoor’n klag van betreding aanhangig maak, waarna diegene wat die perseel betree, selfs in hegtenis geneem kan word.

’n Dringende aansoek kan ook by die hof ingedien word as die perseel skade gaan lei, ook byvoorbeeld in die geval van gesondheidrisiko’s, soos die afwesigheid van toiletgeriewe.

Water en toiletgeriewe wat voorsien word, is nie ’n aanduiding dat goedkeuring gegee is dat iemand daar kan plak nie.

Om ’n interdik te kry teen mense wat ’n perseel beset of betree, moet die aansoeker egter die wetlike eienaar van die grond of huurder/gebruiker wees, en die besonderhede van die oortreder hê. (Deur Angelique Erasmus)