Man val uit sy bakkie

’N BEJAARDE man (64) se Dinsdagoggend het nie goed begin nie toe hy uit sy bewegende Isuzu-bakkie geval het.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die man uit Parkweg links in Andersonstraat ingedraai toe die deur aan die bestuurderskant oopgegaan en hy uitgeval het.

Die bakkie het daarna deur ’n hei­ning van ogiesdraad gery voordat dit in ’n sloot tot stilstand gekom het.

Die man is as ’n “geel” pasiënt op die toneel geklassifiseer. Pasiënte wat só geklassifiseer word, kan nie self na die ambulans toe loop nie. Die ambulanspersoneel moes hom met ’n draag­baar vervoer.

Hy is na die Mediclinic Klein Ka­roo geneem waar hy volgens Hannes Stegmann, bestuurder van die hospitaal, by die ongevalle-afde­ling behandel en daarna ontslaan is.

Volgens die polisieverklaring is dit onbekend of die man sy veiligheidsgordel gedra het. (Deur Angelique Erasmus)