Seuns presteer by byeenkomste

Wilna Francis by die seuns van Huis El Roi tydens die Madibaz Forest Run. Foto verskaf

Sestien seuns van El Roi, voorheen bekend as Huis Triomf, hardloop dat die biesies bewe. Die seuns neem die afgelope tyd onder leiding van Wilna Francis, bestuurslid van die huis, aan Parkruns deel.

“Ek het besef die seuns het talent, en dat Parkruns slegs die begin van hierdie avontuur gaan wees,” vertel Francis.

Sy het met Petrus le Roux kontak gemaak, en saam met Marius October het hulle die seuns formeel begin afrig.Danie Raubenheimer van Netbank Running Club, het die kinders se talent gesien by een van die byeenkomste en aangebied om hul te borg, deur klere te verskaf asook affiliasie en inskrywingsgelde te betaal.

Die seuns het die afgelope naweek aan Madibaz George Forest Run in George deelgeneem en baie goed presteer.

“Ons is besig om te kyk of ons vir die kinders kan hardlooptekkies kry, ek is juis besig om die wat hulle tans het weer met gom vas te plak,” vertel Francis.

Die kinders wat nie tekkies het nie, hardloop sommer kaalvoet, sê sy.

Enige persone wat graag tekkies vir die seuns wil skenk, al is dit tweedehandse skoene, is welkom om Francis te kontak by 082 929 4210.

Francis is ’n afgetrede onderwy-seres en haar man afgetrede skoolhoof van Môrester skool. Beide is betrokke by El Roi en verskaf hul dienste gratis.

“Dit is ook wonderlik om al die veranderinge en verbeteringe te sien vandat pastor Roelof Kwant, van Barn Fellowship kerk in Johannesburg, betrokke geraak het by die huis, en ons is so dankbaar vir alles wat hulle hier vir die kinders doen,” sluit sy af.

*Die kinders se name en gesigte mag ingevolge die kinderwet nie be-kend gemaak word nie. (ANGELIQUE ERASMUS)